Drie sterf binne week op Lim paaie
Sedert verlede Woensdag het verskeie botsings wat die lewens van minstens drie mense geëis het, op Limpopo-paaie plaasgevind. Verlede Woensdagmiddag het die departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se woordvoerder oor verkeer, Kagiso Mootane motoriste gemaan om versigtig te wees op die N1-noord tussen Botlokwa en Louis Trichardt nadat drie vragmotors in ‘n ongeluk …

Sedert verlede Woensdag het verskeie botsings wat die lewens van minstens drie mense geëis het, op Limpopo-paaie plaasgevind.
Verlede Woensdagmiddag het die departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se woordvoerder oor verkeer, Kagiso Mootane motoriste gemaan om versigtig te wees op die N1-noord tussen Botlokwa en Louis Trichardt nadat drie vragmotors in ‘n ongeluk betrokke was. Die pad was met puin besaai en nooddienswerkers het ure lank gewerk om dit skoon te maak.
Vroeg Donderdagoggend is ‘n passasier dood nadat die voertuig waarin hy was op die R101 net buite die stad teen ‘n bees gebots en die motor in vlamme uitgebars het. Die bestuurder het ligte beserings opgedoen.

“Later Donderdagaand is nog ‘n persoon dood nadat ‘n vragmotor wat sand vervoer het se remme blykbaar buite Jane Furse onklaar geraak en ‘n botsing veroorsaak het. Intussen is die bestuurder van ‘n BMW lig beseer nadat hy op die Mashashane-pad buite Polokwane beheer verloor en die voertuig omgeslaan het,” sê Mootane.
Die pad tussen Louis Trichardt en Musina van die Witvlag-afrit tot by die HF Verwoerd-tonnels was van Vrydagmiddag tot Saterdagoggend gesluit nadat ‘n vragmotor wat 13 ton plofstof vervoer het, omgeslaan het. Provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê die bestuurder het vermoedelik beheer oor die vragmotor op die piek van die Soutpansberg verloor waarna hy die padoppervlak verlaat en omgeslaan het.
“Motoriste is aangeraai om die Witvlag- en Waterpoortpad as alternatiewe roetes te gebruik en die pad is Saterdagoggend vir verkeer oopgestel,” sê Mojapelo.
In die nuutste voorval Saterdag-oggend is Mark Hern van Louis Trichardt dood nadat hy met sy bakkie op die N1-noord net buite die stad teen ‘n vragmotor gebots het. “Hy was op pad vanaf Louis Trichardt na Pretoria. Die vermoede is dat die vragmotor in die pad geknipmes het nadat die bestuurder aan die slaap geraak het. Mark het in die vragmotor vasgery,” sê sy verloofde, Chantelle Viviers.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Die bestuurder van dié BMW was gelukkig om slegs ligte besering op te doen nadat sy motor op die Mashashanepad omgeslaan het. (Foto’s: Verskaf)




