Koos Botha verloor kankerstryd
Oom Koos Botha, 'n geliefde inwoner van die stad wie wel-bekend is vir sy bouwerk, het gister (Woensdag), sy stryd teen kanker verloor.
POLOKWANE – Hy en sy vrou, Tannie Ella, is agt jaar gelede deur ‘n rouproses nadat hul enigste seun, Woerie, in ‘n skietvoorval oorlede is. Na die dood van hul seun het hulle voorgeneem om elke jaar ‘n boom ter herinnering van hom te plant. Die jaar kon hulle egter nie omdat Oom Koos se gesondheid dit nie toegelaat het nie.
“Sedert Woerie se dood het Koos se gesondheid baie agteruit gegaan. Hy was vyf jaar gelede met blaaskanker gediagnoseer maar die kanker was onder beheer. Ons het wel vroeg in die jaar onraad vermoed en hy is in Januarie na die Urologiese Hospitaal in Pretoria waar hulle kanker aan die buitewand van sy blaas gediagnoseer het,” vertel Tannie Ella.
Nadat Oom Koos van Februarie tot April chemoterapie ontvang het om die kanker te behandel is hy op 17 Mei geopereer.
“Na die operasie het ons weer teruggekom na die stad maar omtrent ‘n maand na die operasie het Koos baie van naarheid gekla en begin opgooi. Ons het hom na die dokter geneem wie vasgestel het dat daar ‘n obstruksie in sy ingewande was. Hy is na die hospitaal gehaas en sy kolon is op 17 Augustus verwyder.”
Tannie Ella vertel dat Oom Koos altesaam 22 dae in die hospitaal was na die operasie en dat hy sedertdien nie meer bouwerk kon doen nie.
Oom Koos se laaste werk was om vir dr. Flippie van As te help om sy nuwe spreekkamer gereed te kry.
“Koos het baie pyn gehad en was ongemaklik maar hy was nog helder van verstand en ons het nog baie gesels. Ek kan nie die dokters en gemeenskap genoeg bedank vir hul bydrae nie. Dankie vir elke gebed en besoek. Dit beteken vir ons onbeskryflik baie,” sê Tannie Ella.
Tannie Ella bedank in besonder haar dogter, Antoinette, en skoonseun, Cassie Dorfling, vir hul hulp en ondersteuning, die NUT gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir hul hulp en bystand asook dr. Adrian Wreyford, dr. Flippie van As en Zirk Jansen. Sy sê ook dankie vir Eugene Schreiber van ER24 en al die vriende en familie wie hulle bystaan en ondersteun.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.




