POLOKWANE – Die Voëlreservaat wat eens op ‘n tyd ‘n lushof was om te besoek is deesdae ‘n plek om eerder te vermy. Die Polokwane Voëlreservaat op die Mogwadipad (Dendronpad) was eens die ideale plek om na weg te breek en ‘n piekniek te hou, maar die stank van die aangrensende rioolplaas maak ‘n besoek aan dié reservaat ‘n nagmerrie.
Met Review se besoek aan die reservaat was die reuk ondraagbaar en was ons skaars 15 minute in die reservaat. Daar was groot bolle skuim op die water en min voëls te sien.
Inwoners van Ladanna sê dat hulle dikwels nie buite hul huise kan kuier nie aangesien die reuk van die rioolplaas oorweldigend is in dié woonbuurt. Om hul deure en vensters toe te hou, sê hulle, help ook nie om die reuk uit hul huise te hou nie.
Die reuk is afkomstig van riooldamme wat agter die voëlreservaat geleë is.
Sekureitspersoneel by die reservaat sê die reuk is ondraagbaar en die riool wat in die water inloop kan nie gesond wees vir al die diere en voëls wat in die reservaat voorkom nie.
In 2015 het Review berig dat die oorsaak van die reuk die gevolg van ‘n oorvol rioolaanleg in Ladine is.
Sedert Desember 2013 was dit die tweede keer wat die probleem kop uitgesteek het.
In 2013 het die munisipaliteit gesê dat ingenieurs die probleem geïdentifiseer het as ‘n gebreekte anaërobiese verteerder en die rioolplaas se toerusting was dus nie in staat om die riool te verwerk nie.
Vroëer hierdie jaar is berig dat die Seshego rioolaanleg die Sandrivier besoedel het aangesien die aanleg buite werking is. Van die pype was nie geheg nie en daar was verskeie stukkende pype wat rondgelê het.
Een van die riooldamme het oorgeloop in die Sandrivier in.
In vorige ondersoeke het inwoners vertel dat die probleem sedert 2010 pla. Hulle het verskeie briewe aan die munisipaliteit gestuur waarin versoek is om die probleem wat die stank tot gevolg het, op te los. Al hierdie versoeke was vergeefs omdat die reuk ses jaar later steeds ‘n probleem is.
Party boere maak gebruik van die Sandrivier se water om hul lande te besproei of om hul diere te laat suip en die riool wat in die rivier inloop veroorsaak ‘n gesondheidsrisiko vir mens en dier. Teen druktyd kon die munisipaliteit geen terugvoer oor die saak gee nie.
maretha@nmgroup.co.za



