BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Rekordprys vir Inala en duur pret vir Mogalakwena se burgemeester

BOSVELDTELESKOOP: R300 000 vir 'n kilogram vleis!

Indien ‘n mens die uitslagmassa van ‘n beeskarkas op ‘n buffel sou toepas, is dit naastenby die vleiswaarde van R168 miljoen wat sopas vir Inala, ‘n buffelbul uit Limpopo, betaal is.

Om dit in perspektief te stel: afhangende van die wisselkoers, kos goud so naastenby R700 000 per kg. Al wat nodig is vir hierdie amperse goudbul om ‘n homp vleis te word, is ‘n stroper met ‘n oordadige en duur vleislus of een verdwaalde koeël.

Ek kon hierdie jagseissoen nog ‘n koedoe teen R17 per kg geslagte gewig via my genant in die hande kry, maar teen Inala se prys kan ek 236 koedoes vir een kilogram van sy boud kry. Malligheid, sê ek julle. Hoe lank nog voor die wildsborrel gaan bars? Of is die wildbedryf besig om dieselfde paadjie te loop as resiesperde so ‘n vyftien jaar gelede?

Groot bedrae is in die koerante genoem, maar bittermin rande het werklik op veilings van hande verwissel. Dit word ‘n amperse ruilhandel, soos een van die toentertydse top perde afslaers in die land dit persoonlik aan my verduidelik het.

Nkôndla se seders begin die een na die ander val soos wat al meer geraamtes uit die kas tuimel. Twee advokate by die Nasionale Vervolgingsgesag is nou nie meer advokate nie. Die hooftoring van die SABC, wat sy bes probeer het om His Master’s Voice te wees, is nou net ‘n gewone werknemer nadat die hof hom bloedneus geslaan het.

In Pretoria egter het die nuwe burgermeester begin om beweerde bedrog deur sy voorganger se administrasie te laat ondersoek. Sy eweknie in Johannesburg dring daarop aan dat die provinsiale regering meer as R200 m se agterstallige dienstegelde moet betaal en in Port Elizabeth vlieg alle munisipale amptenare voortaan ekonomiese klas soos ek en jy en word duur motors nie meer aangekoop nie.

Maar wat doen ons nuwe burgermeester hier ter plaatse? Hou ‘n reuse verjaarsdag-partytjie met ingevoerde akteurs de lot. Ek wonder net of ons gewone gepeupel vir daardie uitspattigheid sal moet betaal. Seker maar. Iemand moet haar nou net nie van daardie buffelbul vertel nie, anders word hy sweerlikwaar volgende jaar ‘n spitbul!

Die grootste sirkus in die land is lankal nie meer Boswell Wilkie nie. Daardie eer kom die parlement toe. Nogal amusant gewees om die hoofnar van die land te hoor pleit dat hy in daardie tentlose sirkus beskerm moet word. Verbeel ek my, of giggel hy beduidend minder as ‘n jaar gelede?

Ai, hoe verlang ek nou skielik na die ongekompliseerde onskuld van my jonger jare; na pampoenkoekies, souskluitjies en boontjiesop op koue wintersaande; Liewe Heksie, Kasimir en Haasdas se Nuuskas vroegaand op televisie en Gerhard Viviers wat oor die radio ons boksers (en Springbokke) altyd laat wen het – al het hulle verloor.

Daar was swartvarkie, albasters, kennetjie en tolgooi as kindervermaak en toe uit-die-kas-klim beteken het dat jy iemand skrikmaak deur skielik uit ‘n klerekas te spring. Voeg daarby dat ons presidente statig sonder giggelbuie was met net een vrou aan die sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button