BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Droogte op die plaas en ‘Fees must Fall’ in die stad

BOSVELDTELESCOOP: O liewe land, dis droog.

In Modimolle het mense van 1983 as die droogste in ‘n honderd jaar gepraat. Nou nie eers meer nie. In Noord Wes is dit reeds die droogste in 95 jaar en die reënseisoen is nog nie naby nie.

Die aarde bloei stof en sand en wat oor is van tot-in-die-wortel-afgevrete graspolle. En tog beskaam die hoop nie. Op pad na die weegbrug Suid van Mokopane staan die termiet tregters op sommige plekke kniehoogte. Dis by verre die hoogste wat ek dit in die 14 jaar wat ek reeds hier woon, gesien het. As ons die ou boere kan glo, voorspel dit goeie reën. Hoe hoër die tregter, het hulle altyd gesê, hoe meer reën gaan val.

Daar word nou al voorbrand gemaak dat vleis teen Desember onbetaalbaar gaan wees. Boerpampoene gaan so groot soos skorsies wees en net duskant ‘n bees se prys kos. Die enigste wat steeds geil in die blom staan, is die ellende. Asof die droogte nie erg genoeg is nie, teister die rugby ons ook nog. Daar is nie genoeg drank in die ganse SA om ons sorge mee te versuip oor wat nou op die rugbyveld aan die gang is nie.

Wanneer dit nie die rugby is nie, is dit die politiek. My nekhare tot net bokant my hakskene staan steeds orent nadat die heer Julius aangehaal is dat die EFF moontlik in 2019 saam met die ANC in een kraal kan wees. In die politieke geskiedenis van Suid Afrika het geen politieke party nog in twee jaar 9% steun verloor nie. Die ANC het dit egter reggekry om van 62% steun in 2014 na 53% in 2016 te val. Net ‘n skrale 3% verdere verlies tussen nou en 2019 se algemene verkiesing en die kat gaan behoorlik in die duiwehok wees met Julius wat al die pad parlement toe gaan lag.

Intussen het een van die Emiritate opgehou om Unisa se kwalifikasies te erken. Van ‘n vlagskip van Suid-Afrikaanse onderrig wat wêreldwyd studente gelok het, het sy internasionale aansien so gedaal dat landsburgerss wat in London werk, begin het om Unisa kwalifikasies van hul CV’s te verwyder indien hulle gelykwaardige of beter buitelandse kwalifikasies verwerf het.

Hoe lank nog voordat die #Fees must Fall veldtog na skole toe uitbrei? Dan meld universiteite ook dat die funksionele geletterdheid van hul eerstejaarstudente op gr. 7 tot 8 vlakke is, dis nou die ou st. 5 en 6. Asof dit nie erg genoeg is nie, word die eis dat onderrig Afrika gesentreer moet word, al hoe harder. Die probleem is egter dat die res van die wêreld geensins in Afrika standaarde belangstel nie.

Is daar dan geen positiewe nuus nie? Tog wel. Ek hou van die

geluide en positiewe veranderings wat sedert die verkiesing uit nie-ANC

beheerde munisipaliteite kom. As die Hoofman van Nkôndla tog net nie

koelbloedig die land gaan probeer vernietig in ‘n poging om sy eie agterent uit

die tronk te hou nie!

Dit blyk ook dat 84% van Suid-Afrikaners hulself as steeds

verbonde tot die Christelike geloof beskou. Die nagenoeg 1 500 NG Kerk

gemeentes, sowel as die groter NG kerkverband, wie se lidmate naastenby 2% van

die bevolking uitmaak, spandeer nou jaarliks sowat R1 miljard aan welsyn. Dit

is meer as alle regeringsvlakke saam.

Belangriker egter as die bedrag, is dat sover bekend, niks

daarvan gesteel word nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button