Motor glo voor ooggetuies gekaap
Dit is steeds onduidelik wat presies Maandag tydens ‘n beweerde kaping op die hoek van Grobler- en Grimmstraat gebeur het toe ‘n man blykbaar van sy voertuig en R200 000 kontant beroof is. Volgens ‘n ooggetuie het ‘n silwer Audi voor ‘n wit BMW gestop waar verskeie voertuie by die rooi verkeerslig gewag het. “Ek …

Dit is steeds onduidelik wat presies Maandag tydens ‘n beweerde kaping op die hoek van Grobler- en Grimmstraat gebeur het toe ‘n man blykbaar van sy voertuig en R200 000 kontant beroof is.
Volgens ‘n ooggetuie het ‘n silwer Audi voor ‘n wit BMW gestop waar verskeie voertuie by die rooi verkeerslig gewag het.
“Ek bly ongeveer 200 m van die hoek af en was in my erf besig toe ek ‘n skoot hoor. Ek het gesien hoe mense om die BMW saamdrom waarvan die ruit stukkend geskiet is. ‘n Man van Chinese afkoms is uit die voertuig gepluk en die boosdoeners is daarin vort,” sê hy.
Hy het verder beweer dat daar blykbaar ‘n polisievoertuig naby die toneel was wat glo net verder gery het toe die voorval gebeur het.
Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-sektorvoorsitter in Fauna- en Florapark, Reinhardt Meyer sê hy het nog geen verdere inligting wat bevestig kan word oor die beweerde voorval ontvang nie. “Ons is van die insident bewus en kan bevestig daar wel ‘n skoot afgevuur is. Die bewerings oor kontant wat gesteel is, is steeds onbevestig. Die BMW is wel gevind en is tans by die Polokwane polisiestasie,” sê Meyer.
Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het die voorval bevestig, maar het geen detail verskaf nie.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Die gebreekte ruit van die voertuig waaruit ‘n man Maandag op die hoek van Grobler- en Grimmstraat gepluk is nadat op hom geskiet is.



