Polisie slaan toe, konfiskeer plofstof
Die polisie se pogings om misdaad te beveg, werp vrugte regoor die provinsie af nadat hulle die afgelope week tydens verskeie operasies op onder meer gesteelde goedere en plofstof beslag gelê het. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê tydens die operasie wat Maandag deur lede van die provinsiale opsporingseenheid, misdaadintelligensie-eenheid en Polokwane se taktiese reaksie-eenheid georganiseer …

Die polisie se pogings om misdaad te beveg, werp vrugte regoor die provinsie af nadat hulle die afgelope week tydens verskeie operasies op onder meer gesteelde goedere en plofstof beslag gelê het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê tydens die operasie wat Maandag deur lede van die provinsiale opsporingseenheid, misdaadintelligensie-eenheid en Polokwane se taktiese reaksie-eenheid georganiseer is, is drie verdagtes naby Atok aangekeer.
“Die verdagtes sou na verwagting gedurende die week in die Schoonoord landdroshof op aanklagte van onwettige besit van vuurwapens en plofstof verskyn het. Tydens hul inhegtenisname is daar op ‘n pistool en ammunisie, plofstof, agt elektroniese ontstekers en smeltdraad beslag gelê,” sê Ngoepe.
Die ondersoek duur voort om die oorsprong van die plofstof te bepaal.
‘n Intelligensie-gedrewe operasie wat Vrydag in Maake op eiendommisdaad of diefstal gekonsentreer het, het die polisie na verskeie huise in Ritavi, Maake en Letsitele gelei waar twee verdagtes aangekeer is.
“Verskeie skrootwerwe en huise is in die gebied deursoek. Die polisie het meer as 22 liter transformatorolie, ‘n transformator, skakels, hoekslypers en transformatoromhulsels ter waarde van R60 000 gekonfiskeer,” sê Ngoepe.
Die verdagtes is volgens Ngoepe reeds met voorvalle van diefstal van transformators in Maake, Mafarana-nedersetting en Shipungu-nedersetting verbind. Hulle sou na verwagting Maandag of Dinsdag in die Lenyenye landdroshof verskyn het, maar kon intussen nie bevestig word nie.
Intussen sou drie verdagtes ook vandeesweek in dieselfde hof verskyn het nadat hulle verlede week gedurende ‘n operasie in Maake vasgetrek is. Hulle is in besit van drie ongelisensieerde vuurwapens gevind.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Smeltdraad, plofstof en ‘n pistool is tydens ‘n operasie in Atok gekonfiskeer. (Foto’s: Verskaf)





