Local NewsNews

Vrou veg verbete teen selfoondief ondanks doodsdreigemente, messteek

Selfs nadat ‘n vrou in die stad met die dood gedreig is, het haar waagmoed gesorg dat ‘n vermeende selfoondief vasgetrek en boonop sy buit kwyt is. Terwyl sy Maandagmiddag in Landdros Maréstraat vir haar suster in haar voertuig gewag het, het drie skurke die voertuigdeure oopgeruk, ingeklim en haar selfoon geëis, maar sy het …

Selfs nadat ‘n vrou in die stad met die dood gedreig is, het haar waagmoed gesorg dat ‘n vermeende selfoondief vasgetrek en boonop sy buit kwyt is.
Terwyl sy Maandagmiddag in Landdros Maréstraat vir haar suster in haar voertuig gewag het, het drie skurke die voertuigdeure oopgeruk, ingeklim en haar selfoon geëis, maar sy het verbete teruggeveg.
“’n Stoeiery het tussen my en een van die mans ontstaan. Ek het hom geknyp en by die motor probeer uitstamp waarna hy gedreig het dat hy my sal doodmaak as ek nie my selfoon vir hom gee nie. My selfoon is net ‘n maand oud en ek het besluit om terug te veg, min wetende dat hy met ‘n mes gewapen is.”
Die skurk wat uiteindelik die oorhand gekry het, het daarna doodluiters met my foon in die straat afgestap. “Ek het uitgeklim, begin alarm maak en hom agternagesit. Die ander twee het intussen weggehardloop. Toe hy sien ek gaan nie opgee nie en meer mense begin van hom bewus raak, het hy die selfoon neergegooi en gehardloop waarna hy glo elders in die middestad aangekeer is en die polisie hom verwyder het.”
Sy het reeds die verdagte by die Polokwane polisiestasie uitgeken en sal later in die hof verskyn.
Minute later het sy besef haar been brand en die gapende wond gesien wat met 22 steke geheg moes word.
“Ek besef ek het lig daarvan afgekom en kon baie seerder gekry of selfs dood gewees het. My familie is kwaad omdat ek so baklei het.”
Polokwane polisiekommunikasiehoof, Ntobeng Phala is van die voorval bewus, maar kon nie die arrestasie bevestig nie en het gewaarsku dat mense versigtig moet wees wanneer hulle in die middestad beweeg.
“Ons kan nie genoeg beklemtoon dat mense nie met duursame items soos beursies en selfone in hulle hand moet loop of in hul voertuie sit nie. Sulke voorvalle word al meer aangemeld. Selfs insidente waar selfone uit motoriste se hande gegryp word, neem toe.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button