Hoe om die vakansie met skoonfamilie te oorleef
“Jou houding bepaal alles. Pas jou verwagtinge aan"
POLOKWANE – Die Feesseisoen is nie ‘n geleentheid waarna almal ewe veel uitsien nie, om verskeie redes. Een van hierdie redes kan wees dat jy en jou gesin die jaar hierdié tyd by jou gade se familie moet gaan kuier.
Jy sien nie uit hierna nie, want jou skoonsussie se kinders het geen maniere nie en jou skoonma het nooit ‘n goeie word oor jou te sê nie. Tog, om vrede in jul huishouding te handhaaf, bly jy stil en pak die tassie.
Review het dominee Tjaart Meyer gevra vir wenke om almal om die kerstafel gelukkig te hou.
“Jou houding bepaal alles. Pas jou verwagtinge aan. Dit beteken nie dat jy gelukkig moet wees met skerp woorde van jou skoonma se kant af nie, maar dat jy moet besef jy gaan dalk nie so lekker tyd hê soos as julle by jou eie ouers gaan kuier het nie. Aanvaar dat jou familie van jou skoonfamilie gaan verskil, en pas by hulle doen en late aan.
“Onthou dat jou skoonouers jou man of vrou groot gemaak het. Hulle moes hom op een of ander manier beinvleoed het.”
Verder sê hy dat ‘n mens nie vooruit moet kla omdat jy tyd saam met hulle gaan spandeer nie. Dink aan hoe dit vir jou man of vrou gaan voel as jy kla. Onthou dat jy en jou man of vrou in die selfde span is en nie teen mekaar is nie.
“Bly besig. Kry iets sinvol om te doen. Wys hulle hoe ‘n nuwe elektroniese toestel werk of gaan doen iets in die tuin. Kry ‘n aktiwiteit wat jy saam met jou skoonfamilie kan doen. Jy kan self aktiwiteite beplan wat almal kan doen solank jou skoonfamilie nie die aktiwiteit sien as iets wat jy doen om oor te vat nie. Beplan ook vir tyd alleen, aangesien jy dit gaan nodig kry.”
Meyer sê verder om die geselligheid hartlik te hou. Gee spesiale geskenke aan jou skoonfamilie. Vermy argumente, al kom julle nie oor die weg met mekaar nie. Verskoon jouself wanneer dinge moeilik raak en gee opregte komplimente. En laastents, bedank jou skoonfamilie vir die lekker tyd.”




