Osies ryg medaljes tydens P1 interlaer in
‘n Tweedaagse stryd tussen plaaslike laerskoolatlete wat verlede week aan die P1 interlaer op Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) en Hoërskool Pietersburg (PHS) se velde onderskeidelik deelgeneem het, het nege nuwe rekords opgelewer. Deelnemende skole het Oosskool, Pietersburg Laerskool (Suidskool), Pietersburg Comprehensive School (PCS), Pemps Polokwane Preparatory School and College, Flora Park Comprehensive Primary School, Good Hope …

‘n Tweedaagse stryd tussen plaaslike laerskoolatlete wat verlede week aan die P1 interlaer op Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) en Hoërskool Pietersburg (PHS) se velde onderskeidelik deelgeneem het, het nege nuwe rekords opgelewer.
Deelnemende skole het Oosskool, Pietersburg Laerskool (Suidskool), Pietersburg Comprehensive School (PCS), Pemps Polokwane Preparatory School and College, Flora Park Comprehensive Primary School, Good Hope Primary School en Northern Academy Primary School ingesluit.
Velditems is verlede Vrydag by Laerskool Pietersburg-Oos afgehandel terwyl naelloopatlete mekaar Dinsdag op PHS se veld aangedurf het.
Oosskool was duidelik die sterker skool op die veld nadat hulle atlete met die junior en senior Victrix en Victor Ludorum-trofeë sowel as ander gesogte toekennings weggestap het.
Ethan Grobbelaar is beste junior baanatleet aangewys, terwyl Zoë Dunster van den Heever die beste senior baanatleet was. Kayla de Villiers is as beste senior veldatleet gekroon.
Die junior Victrix en Victor Ludorum-atlete was Suné du Preez en Ethan Grobbelaar terwyl Kayla de Villiers en Theuns Jooste in die senior-afdeling met dieselfde toekennings weggestap het.
Henry van Wyk van Suidskool het ‘n rekord in die 800 m vir seuns o.13 met ‘n tyd van 2:22.90 opgestel. Andru van Zyl het die o.10-gewigstootrekord met ‘n afstand van 9,34 m aangeteken, terwyl mede-Osie, Winette Prinsloo die nuwe rekordhouer vir meisiegewigstoot o.12 is nadat sy 10,17 m gegooi het.
Oosskool se Juan Randall het met ‘n tyd van 2:05.10 ‘n rekord in die 600 m vir seuns o.9 agter sy naam en Britney Cronjé spog met die werpskyfrekord van 20,9 m vir meisies o.12.
Wian Terblanché het Suidskool se naam in die o.12-spiesgooi vir seuns hoog gehou deur ‘n rekordgooi van 27,61 m aan te teken.
Thadekile Machoene van Good Hope Primary het die o.12-spiesgooirekord van 19,05 m
opgestel. Osie-naellopers Zoë Dunster van den Heever en Kayla de Villiers het beide die vorige rekord in die 150 m vir meisies o.12 oortref. Zoë hou tans die rekord van 20.13 en Kayla het die wedren met ‘n tyd van 20.25 in die tweede plek voltooi het.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto’s: RC Myburgh en Herbert Rachuene












