Lees is geheime toekomswapen
Bekende skrywer Christien Neser het leerders van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) en Pietersburg Laerskool (Suidskool) onlangs aangemoedig om meer te lees. “As jy nie baie lees nie, kan jy nie ‘n vraestel reg lees en verstaan nie en dit affekteer jou punte waarsonder jy nie kan gaan studeer nie en ook nie baie geld verdien om …

Bekende skrywer Christien Neser het leerders van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) en Pietersburg Laerskool (Suidskool) onlangs aangemoedig om meer te lees.
“As jy nie baie lees nie, kan jy nie ‘n vraestel reg lees en verstaan nie en dit affekteer jou punte waarsonder jy nie kan gaan studeer nie en ook nie baie geld verdien om eendag daardie spoggerige motor te koop nie. Elke brokkie nuus moet as afbetaling aan daardie motor gesien word,” sê Neser.
Sy het die belangrikheid van lees met leerders van graad 4 tot 7 met behulp van vyf punte bespreek; intelligensie, inligting, interessantheid, inspriasie en insig. “Dit is vyf geskenke in jou hand as jy baie lees wat die sterkste voorspeller van akademiese- en beroepsukses is. Ons lewe in ‘n era van inligting en tegnologie wat steeds op lees gebaseer is. Deur te lees kan jy op hoogte bly en as jy vinnig en met begrip kan lees, kan jy hoë hoogtes bereik.”
Neser sê verder dat lees jou ‘n interessante mens maak omdat jy altyd iets sal hê om oor te gesels en lees inspireer mense om kreatief te wees.
Sy werk deeltyds as spraakterapeut en skryf tussendeur boeke soos Kondensmelk en Koshuiskoffie wat gewild onder jong lesers is.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



