Jong kokkedore, braaiers wys staal
Nie net is 'n braai- en boereworskompetisie gehou nie, maar die jong sjefs van die skool het als uitgehaal om met hulle geregte te kon spog.
POLOKWANE – ‘N kosmaak en braaidag by die CVO-skool Potgietersrus het verlede Saterdag vir groot vermaak en pret gesorg.
Die kokkedoortjiekompetisie was vir die jong sjefs van gr. 2 tot 5 en die seniors kon daarna hulle kosmaaktalente inspan.

Aan die einde van al die kookvernuf was daar van roereiers, Franse braaibrood, worsies en spek op die tafels om die beoordelaars te beïndruk.

Die gr. 2’s se sjefs wen die juniorafdeling en ‘n geldprys as beloning.
Die gr. 5 is die seniorwenners wat met hulle geregte die beoordelaars se smaakkliere gekielie het.
Vir die ouer garde was die boereworskompetisie ‘n lekkerte.
Die beoordelaars was niemand anders as die bekende Limpopo Braai-Ninja, Martin Kobalt, en die wêreldberoemde Mastersjef en Vise-president van die Wêreld Sjeforganisasie, Dirk Liebenberg.

Hulle is in styl met ‘n helikopter na die skool gebring. Plaaslik het Kpl. Dawie Kotze hand bygesit.

J&S Slaghuis wys hulle boerewors is ‘n wenner en die eienaar, Johan Schutte, sê hy het die wors wat oor die toonbank verkoop word, ingeskryf.
Daarna spring die braaiers uit om te kyk of hulle die braaikompetisie kan wen.
Die dertien spanne van die verskeie klasse het elk ‘n koelhouer met ‘n vleissnit ontvang. Niemand het vooraf geweet wie kry wat nie.
Aan die einde van die braaiery kraai die gr. 8’s se span koning.
Daar is tot laat saam gekuier en Skoolhoof Jan Harmse bedank die borge en almal wat die heerlike dag ondersteun het.




