EntertainmentLifestyleLocal NewsNews

Oud-Pietie kom kuier in Polokwane

Franciska tree op 1 April om 19:00 by Sterkloop Pub & Grill op.

POLOKWANE – In 2014, op die ouderdom van 23, het Franciska Hallatt aan haar heel eerste amptelike sangkompetisie deelgeneem. Hier het die vermaaaklikheidsgogga die oud-leerder van Hoërskool Pietersburg gebyt en het sy besluit die lewe is te kort om nie haar drome na te streef nie.

Franciska, wat na skool na Gauteng verhuis het, besoek haar geboortestad, Polokwane, gereeld waar sy dan optree en haar mense vermaak.

Franciska, wat as haar eie agent optree, het reeds in 2015 begin met die opname van haar debuut-album wat hierdie jaar op die rakke sal wees. Die liedjies op die album word geskryf deur Daniel Po en vervaardig deur Robin Fernie van Little Bit Box Productions.

“My heel eerste optrede was by Elephants and Friends Highveld in Centurion waar ek ook tans bly. Ek sou graag vir P!nk ‘n konsert-voorskou wil doen, of vir Riana Nel.”

Laggend vertel sy dat sy al ‘n paar keer op die verhoog gestap het tydens ‘n vertoning en, om een of ander rede, was haar broek se gulp wawyd oop.

Sy was nog nooit spyt oor ‘n liedjie wat sy gesing het, of opgeneem het nie, en glo dat as jy kies om die liedjie op te neem, moet jy reeds ‘n sterk verband hê met die liedjie, sodat jy juis nie na die tyd moet spyt wees nie.

“Die moeilikste liedjie wat ek nog ooit moes sing was seker my eerste enkelsnit, naamlik Warm. Nie net omdat dit my eerste opname was nie, maar ek het soveel aanklank gevind by die liedjie dat dit my emosioneel geraak het tydens die opname van die liedjie.

“Ek sing enige iets van Goue Oues soos Simply The Best deur Tina Turner, Don’t Stop Believing deur Journey en Dangerous deur Roxette, tot vandag se meer kontemporêre treffers,” vertel sy.

“My eie musiekstyl kan ek beskryf as Afrikaanse Pop Rock wat aanhangers met ‘n gevoel van opgewondenheid los.

“My optredes sluit dikwels bekende snitte in soos Honey, I’m Home deur Shania Twain, I Kissed a Girl deur Katy Perry, Jy Soen my Nie Meer Nie deur Lianie May en my gunsteling, Try deur P!nk.”

Sy vertel dat sy nie geïnspireer is deur ‘n spesifieke persoon nie, maar dat mense wat hulle drome volg en hul hart uitleef, haar baie inspireer.

“My familie het definitief ‘n rol in my musiekloopbaan gespeel. Musiek van legendes soos Neil Diamond, John Denver, Olivia Newton-John en The Eagles het weergalm in die gange van my familiehuis tydens my kinderjare. Ek is egter die enigste een in my familie wat ‘n sangloopbaan volg.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button