Local NewsNews

Toyota-eienaars in Bendor geteiken, sakekern bly kopseer

‘n Beweerde voertuigdiefstalsindikaat wat blykbaar ‘n spesifieke model Toyota-bakkie in hul visier het, het verlede week op Bendor toegeslaan en drie Legend 45-modelle binne 25 uur in dié woongebied gebuit. Polokwane GPF-skakelbeampte, Johan Retters, sê twee van die bakkies is gesteel terwyl ‘n derde een tydens ‘n kaping geroof is. Die eerste bakkie is Dinsdag …

‘n Beweerde voertuigdiefstalsindikaat wat blykbaar ‘n spesifieke model Toyota-bakkie in hul visier het, het verlede week op Bendor toegeslaan en drie Legend 45-modelle binne 25 uur in dié woongebied gebuit.
Polokwane GPF-skakelbeampte, Johan Retters, sê twee van die bakkies is gesteel terwyl ‘n derde een tydens ‘n kaping geroof is.
Die eerste bakkie is Dinsdag omstreeks 18:00 by Thornhill Shopping Centre gesteel en ‘n tweede die volgende oggend vanuit die parkeerarea van ‘n tandartsspreekkamer in Bendorrylaan.
“Tydens die derde voorval by Platinumpark is die bakkie se eienaar glo deur twee gewa­pende mans gekonfronteer. Sy het klaarblyklik vanuit een van die winkels na haar bakkie gestap toe een van die verdagtes ‘n vuurwapen op haar rig, die sleutels neem en met haar voertuig vort is,” sê Retters.
‘n Ooggetuie het die bakkie agternagesit tot waar dit by ‘n nabygeleë sekuriteitskompleks ingedraai het. Nadat die GPF en polisie ontbied is, is die kompleks gefynkam, maar sonder enige sukses volgens Retters.
Dit blyk dat die verdagtes professionele misdadigers kan wees omdat die gekaapte bakkie se opsporingstoestel glo gedeaktiveer is.
“Vir sowat twee uur was daar geen sein nie totdat die opsporingsmaatskappy later weer ‘n sein in Zebediela opgespoor het. Dit is nog nie bekend of enige van die voertuie al teruggevind is nie,” sê Retters.
Daar was blykbaar vroeër die dag (Woensdag) ‘n onsuksesvolle kapingspoging op ‘n persoon met ‘n soortgelyke bakkie in Rissikstraat wat nie bevestig kon word nie.
Retters sê benewens die onlangse voorvalle het misdaad in Bendor, GPF-sektor 2 met ongeveer 70% afgeneem terwyl verskeie dele in die stad steeds as hoë misdaadgebiede beskou word.
Die laaste week in Junie is daar in sektor 1, die sentrale sakekern, drie voorvalle van diefstal vanuit motorvoertuie, drie van inbrake by besighede en twee van roof en twee van gewapende roof aangemeld.
In sektor 2 was daar vir dieselfde tydperk een huisbraak, een rooftog en twee insidente waar items uit voertuie gesteel is. In Peninapark, sektor 3, was daar ‘n inbraak by ‘n besigheid en vier diefstalvoorvalle vanuit ‘n motorvoertuig.
In sektor 4, Flora- en Faunapark en in sektor 5, die bo-dorp, was daar enkele voorvalle van diefstal vanuit ‘n voertuig en roof.
Retters sê die GPF en die polisie is werklik besig om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. “Die afname in misdaad is aan goeie samewerking van die GPF en die polisie te danke. Lede is bereid om alles op te offer om hul gemeenskap te beveilig.”
Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het al drie motordiefstalvoorvalle bevestig.
“Die polisie het reeds voorkomingsmaatreëls opgeskerp deur hul patrollietye in dié gebied te vermeerder. Ons maan inwo­ners om enige verdagte persone of voertuie in die gebied dadelik by die GPF of polisie by 015 296 7000 of 10111 te rapporteer,” sê Ramoshaba.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button