Nou vir die semi’s
Potties Rugbyklub se eerste en tweedespan speel komende Saterdag in die semi-finaal van die Senior Boet Fickliga
MOKOPANE – Beide die spanne speel teen Noordelikes. Die tweedespan draf om 14:00 in die Peter Mokaba Stadion uit en die Fire Quip Potties eerstespan om 16:20. In die ander halfeindstryd pak Letaba se eerstespan Northam en Louis Trichardt se tweedespan speel ook teen Northam se tweedes.

Potties se eerstespan het verlede Saterdag egter naelskraap teen Letaba verloor met 20-19, maar die tweedes het ‘n wegholoorwinning behaal met die eindtelling 40-8. Stephan Oosthuizen is as die eerstespan se algehele speler van die wedstryd aangewys en JG Duvenhage as die beste agterspeler.
SJ Jonker, afrigter van die eerstespan, sê die span wat Letaba al vanjaar deeglik geklop het, moes sonder van sy sleutelspelers klaarkom. Die span is egter slaggereed vir die semi-finaal en gaan als insit om sy kampioenstatus te behou. Die eerstespan het vroeg in die liga Noordelikes pak gegee en sien uit na die herontmoeting.

Indien Potties en Northam sake moet uitspook in die finaal sal die wedstryd op Northam se veld gespeel word. Die wenner van die Senior Boet Fickliga sal na die finaal aan die Gold Cup kompetisie deelneem.
Die spelers bedank hul spanbestuurder Ockie Groenewald, die eerstespan se afrigters SJ Jonker en Douw Oosthuizen en die tweedes se afrigters Lourens Smit en Marco de Sousa vir al hulle insette en harde werk. ‘n Spesiale dank ook aan al die borge.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




