Byna 10 000 voertuie nagegaan
Motoriste op Limpopopaaie het die naweek ‘n voorsmakie van Operasie Ndadzi in aanloop tot die feesseisoen gekry waartydens 9 578 voertuie regoor die provinsie oor twee dae nagegaan en oortreders aangekeer is. Die adjunkdirekteur van openbare verhoudinge van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, Matomi Moremi, sê dat verkeersbeamptes se geen-genade-houding met die handhawing van …
Motoriste op Limpopopaaie het die naweek ‘n voorsmakie van Operasie Ndadzi in aanloop tot die feesseisoen gekry waartydens 9 578 voertuie regoor die provinsie oor twee dae nagegaan en oortreders aangekeer is.
Die adjunkdirekteur van openbare verhoudinge van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, Matomi Moremi, sê dat verkeersbeamptes se geen-genade-houding met die handhawing van dissipline en sigbaarheid op provinsiale paaie vrugte afwerp. Verlede naweek is 3 011 voertuie nagegaan wat die afgelope naweek verdriedubbel is.
‘n Totaal van 997 bestuurders is vir dronkbestuur getoets, 25 boetes vir oorlaaide voertuie en 172 boetes vir onvoldoende permitte of dokumentasie is uitgereik, 15 voertuie is van die pad geskrap en 23 geskut.
Honderd-een-en-vyftig boetes is vir bestuurders wat sonder ‘n bestuurderslisensie bestuur uitgereik en 57 voertuie was sonder voertuiglisensies.
299 spoedboetes is uitgereik en twee spoedvrate is op die N1 gearresteer nadat hulle verkeersbeamptes probeer omkoop het.
“Ons het onderneem om op motoriste se veiligheid te fokus en sal geen genade toon nie,” het die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Makoma Makhurupetje, gesê. 41 Motoriste waarvan 11 vir dronkbestuur, twee vir spoed, 25 vir lasbriewe vir vorige verkeersoortredings en twee vir omkopery is gearresteer.
Dronkbestuur bly ‘n yslike kopseer. Statistiek van die Mediese Navorsingsraad en die SAPD vir 2016/17 toon dat 58% van padsterftes in Suid-Afrika alkoholverwant is en 75 034 dronkbestuurders regoor die land aangekeer is.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



