Local NewsNews

Ma oorweeg regstappe nadat staalhek op haar kleuter val

“Ek het net gebid en die bomenslike krag wat ek gekry het om die hek van my kind op te tel, kom net van Bo af.” So sê Celeste Grimes, ‘n ma van die stad wie se Valentynsdag byna in ‘n nagmerrie verander het toe haar vierjarige seun, TJ de Jager, ernstig beseer is nadat …

“Ek het net gebid en die bomenslike krag wat ek gekry het om die hek van my kind op te tel, kom net van Bo af.”
So sê Celeste Grimes, ‘n ma van die stad wie se Valentynsdag byna in ‘n nagmerrie verander het toe haar vierjarige seun, TJ de Jager, ernstig beseer is nadat ‘n staal motorhek op hom geval het. Grimes is tans besig om regshulp in te win en oorweeg stappe teen die verhuringsagent of die eienaar van die huis omdat beide blykbaar hul skouers oor die voorval optrek.
Grimes sê die on­geluk het by ‘n maat van TJ se ouers wat die huis in Tangerinestraat in Bendor huur, gebeur. “Ek laai daagliks na skool die seun by die huis af en het dié dag na ‘n hond gaan kyk wat ons moontlik wou aanskaf terwyl my ouer seun, JP, in die motor gewag het.”

Die hek wat op die vierjarige TJ geval het.

Toe hulle uit die huis stap het TJ gehardloop om die hek oop te skuif toe dit op hom geval het. “Dit het gevoel of ek lam word toe ek sien wat gebeur. Ek het dadelik die hek opgetel en binne sekondes was JP by om die hek weg van TJ te gooi. TJ se agterkopvel het met impak oopgebars en hy het skraap- en kneusplekke in sy gesig gehad. Ek kon sy kopbeen deur die oop wond sien. Al wat hy gesê het is: ‘Jammer mamma, ek sal dit nie weer doen nie’,” sê Grimes.

Gelukkig het sy maat se pa mediese kennis en het dadelik die wond verbind en met hulle na ‘n dokter gehaas waar die wond met chirurgiese krammetjies geheg en die gesin na Mediclinic Limpopo vir ‘n breinskandering verwys is. “Gelukkig het TJ geen ernstige breinbesering behalwe harsingskudding opgedoen nie. As enkelouer en enigste broodwinner moes ek vir ‘n week van die werk af bly om na hom om te sien en het die week se inkomste verloor omdat ek vir myself werk. Boonop het ons gesin nie ‘n mediese fonds nie en TJ moet gereeld vir opvolgondersoeke gaan. Niemand wil verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar en daarvoor opdok nie,” sê Grimes, wat geen ander keuse het as om regstappe te oorweeg nie omdat die skuifhek volgens haar geen veiligheidsmeganisme het om te verhoed dat dit van die spoor kan afval nie.
Twee weke na die voorval is die krammetjies verwyder en TJ is terug skool toe. Die wond genees goed en daar is sover geen komplikasies nie behalwe dat TJ baie bang is om by hekke in of uit te gaan, volgens Grimes. “My advies aan ouers is om te verseker dat hul hekke veilig is en dat dit onder geen omstandighede sommer net kan omval of ontspoor nie. Dit het so vinnig gebeur en my kind kon dood gewees het.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button