Osies hou Mnr. en Mej. Bibber 2026
Van ysige karakters tot snaakse antwoorde het die vertonings die gehoor laat lag en die winterstemming perfek vasgevang.
POLOKWANE – “Ek wil hê mense moet môre nog sien waar ek gister geloop het,” is die woorde waarmee Oosskool se Mnr. en Mej. Bibber 2026-kompetisie onlangs afgeskop het.
Wintertema bring die ysbreek
Jaarliks, net voor die wintervakansie, neem die gr. 5-leerders deel aan dié kompetisie met die hoop om as Mnr. en Mej. Bibber gekroon te word.
Vanjaar was pikkewyne, yskastele, sneeuvlokkies en dans in die sneeu deel van die verrigtinge en nadat Lia van der Walt gekies het om eerder ‘n ster te wees as ‘n sneeuvlokkie met haar antwoord hierbo, was die ys gebreek en kon die gehoor agteroor sit en die optrede geniet.
Kreatiwiteit op die verhoog
Lia en Schalk Heenop van gr. 5C, was eerste aan die beurt en daarna het Karli Smit en Immanuel Janse van Rensburg van gr. 5D hulle vaardighede op die verhoog ten toon gestel.

Leya Holcher en Christoff Smit het gr. 5H verteenwoordig en Oratile Mamabolo en Tsitso Nyatsu gr. 5L. Lizaan Geldenhuys en Wian Marx in gr. 5M het saam die verhoog gedeel en laaste aan die beurt was dit Mila Ferns en Jan-Louis Roos in gr. 5Y wat die gehoor vermaak het.
Die deelnemers is beoordeel op grond van hulle danspassies, die antwoorde op hulle vrae en die algehele indruk wat hulle op die beoordelaars gemaak het.
Mila en Wian gekroon as wenners
Mila en Wian is vanjaar aangekondig as Mnr. en Mej. Bibber 2026.




