Elf jaar van hoogtepunte, passie en toewyding by Kruinies
Twee pretgevulde dae met sokkie, toutrek en opwindende rugby en netbal het Vrydag en Saterdag Curro Heuwelkruin se elfde Stigtingsdagvieringe gekenmerk. “Alles het by ‘n idee begin: George Diamond wou ‘n sentrum van akademiese uitmuntendheid skep en Dawid Oelofse het die idee na ‘n privaatskool uitgebrei. Thys Kachelhoffer en ander stigterslede het hard gewerk om …

Twee pretgevulde dae met sokkie, toutrek en opwindende rugby en netbal het Vrydag en Saterdag Curro Heuwelkruin se elfde Stigtingsdagvieringe gekenmerk.
“Alles het by ‘n idee begin: George Diamond wou ‘n sentrum van akademiese uitmuntendheid skep en Dawid Oelofse het die idee na ‘n privaatskool uitgebrei. Thys Kachelhoffer en ander stigterslede het hard gewerk om gestalte aan ‘n skool te gee en vandag vier ons vir die elfde keer Stigtingsdag,” het uitvoerende hoof, Eben Lingenfelder tydens die formele openingseremonie gesê.
Op 10 April 2007 het die regering aan stigterslede ‘n lisensie toegestaan om ‘n privaatskool te begin. “Heuwelkruin is die perfekte voorbeeld van progressiewe ontwikkeling wat met ‘n idee begin het. Die verpligting rus op elke ouer, leerder en opvoeder om steeds stigterslede te wees en Heuwelkruin verder uit te bou,” sê Lingenfelder.
Kultuur- en fasehoof, Nicole Senekal, het in haar feesrede die skool met die wonderlike wêreld van teater vergelyk.
“Om ‘n film of teaterstuk suksesvol te skiet of aan te bied, het jy skrywers, ‘n vervaardiger, akteurs en toerusting nodig. Kruinies het dit alles en dit is wonderlik om te sien wat ons in elf jaar bereik het met wêreldklas onderrigfasiliteite, ‘n sportterrein, klubhuis, laboratoriums en leerderakkommodasie.”
Sy het Lingenfelder vir sy uitnemende leierskap, passie, toewyding en geloof in Kruinies bedank.
Nadat die skoollied gesing en die vlae gehys is, het Kruinies in hul groepe Phobos, Triton en Deimos kranse op die terrein gelê waarna grade mekaar met toutrek aangevat het.
In die grondslagfase was graad 3A die wenklas terwyl graad 7A en -6E meisies die eerste en tweede plek in die intermediêre fase ingepalm het.
Groot opwinding het by die hoërskole se toutrekkompetisie geheers nadat die matriekmeisies die -seuns ore aangesit het en ‘n algehele tweede plek behaal het. Die graad 11-seuns is die hoërskoolwenners.
Die dag is later die aand met ‘n straatsokkie vir leerders afgesluit terwyl personeel en gaste aan ‘n musiekvasvra deelgeneem het.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com












