Gesogte eko-wêrelprys deur omgewingsvegter opgeraap
Makoma Lekalakala, Direkteur van Earthlife Africa (ELA) Johannesburg en Liz McDaid van die Southern African Faith Communities Environment Institute (SAFCEI) het verlede week dié prys in San Francisco, VS ontvang.
POLOKWANE – Een van die gesogste pryse op omgewingsvlak, die Goldmanprys, word jaarliks oor ses kontinente uitgedeel aan omgewingsaktiviste wat ‘n groot verskil op hul gebied op hulle kontinente maak.
Makoma Lekalakala, Direkteur van Earthlife Africa (ELA) Johannesburg en Liz McDaid van die Southern African Faith Communities Environment Institute (SAFCEI) het verlede week dié prys in San Francisco, VS ontvang.
Hulle is gesamentlik vereer vir hulle rol in die onthulling van die skandaal oor die kernkragooreenkoms tussen SA en Rusland. ELA het verlede jaar ‘n hofsaak aanhangig gemaak om die bou van die voorgenome Eskom kernkragstasie te probeer keer.
As omgewingsregteorganisasie is ELA gekant teen die gebruik van kernkrag om elektrisiteit op te wek.
“Dinge verander vinnig. Toe die vorige Geïntegreerde Energie Plan (IRP) gepubliseer is, het die regering nog gedink steenkool en kernkrag is die oplossing vir SA se elektrisiteitsprobleme. Intussen het die land meer krag as waarvoor daar ‘n aanvraag is en hernubare energie word by die dag goedkoper en is reeds goedkoper as beide steenkool en kernkrag. Beide kernkrag en steenkool het reuse negatiewe impakte op die omgewing en die gemeenskappe wat in daardie omgewings moet woon,” meen Lekalakala.
Die prys is aan die twee vroue toegeken vir hulle deursettingsvermoë om die korrupte ooreenkoms aan die kaak te stel. Na verskeie optogte en petisies voor die parlement, het die twee organisasies hulle tot die Hooggereghof gewend en die hofsaak gewen, wat tot gevolg gehad het dat die ooreenkoms met Rusland as onwettig verklaar is en ter syde gestel is.
Sodoende is Suid-Afrikaners ‘n volle triljoen Rand gespaar. Sommige kenners sê ook dat hierdie hofsaak die keerpunt was in die pad na ‘n nuwe staatspresident vir die land.
Lakalakala en ELA werk hard teen beide kernkrag en steenkool en die impakte daarvan.
Sy werk met plaaslike gemeenksappe en is ‘n groot kampvergter vir die opvoeding van gewone mense in die fynere hakplekke en vangplekke van omgewingsreg.
“Dit is elke landsburger se reg om te leef in ‘n omgewing wat nie skadelik is vir hom of haar nie, en daarom is dit ons plig om op te staan vir hierdie regte,” se sy.
ELA het erlede jaar ‘n hofsaak gewen teen die minister van omgewingsake en die Thabametsi kragstasiemaatskappy, waarin die regter bevind het dat ‘n volledige impakstudie gedoen moet word om vas te stel hoe klimaatsverandering beïnvloed word deur ‘n steenkoolaangedrewe kragstasie.
Vanjaar is die eerste keer dat ses van die sewe wenners vroue is. Die ander wenners was Nguy Thi Khanh, Vietnamese skoonenergie-kampvegter, LeeAnne Walters, VS skoonwateraktivis, Claire Nouvian, Franse seelewekampverger en Manny Galonzo, anti-loodaktivis van die Fillipyne.




