NewsSchools

HPP, Hansies slaggereed vir groot kragmeting

Die spanning en opwinding loop weer hoog tussen die rugby-, netbal- en hokkiespanne van Hoërskool Piet Potgieter en Hoërskool Hans Strijdom van Mookgophong wat Saterdag op die velde van HPP sal kragte meet.

MOKOPANE – Albei skole se spanne sien uit na goeie kompetisie en is slaggereed. Hierdie wedstryde sal deel van die wintersportliga wees en afrigters, skoolhoofde en spankapteine is reg vir die wedstryde wat met goeie sportmansgees gespeel word.

HPP se Hoof, Jimmy Steele, sê dit gaan naelbytaksie wees. “Dit is vir ons ‘n voorreg om die Hansies by ons skool te ontvang. Ons is baie opgewonde en mag die beste spanne wen.”

Renier Labuschagne, afrigter van die eerstespan, sê hy hoop vir die beste. “Ons sal maar wag en sien. HPP het tot nou vir uitstekende rugby gesorg.” Eerstespan-netbalafrigter, Illse Malan, sê haar span het hard geoefen en sy weet hulle sal net hul beste gee. Kaptein van dié span, Jessica Matjiu, motiveer haar span en hou daarvan dat die span saam voor die wedstryd bid.

Chris de Wet, waarnemende hoof van Hoërskool Hans Strijdom, sê dit is altyd ‘n plesier om op HPP se velde en bane kragte te meet. “Die gees is lekker en hulle is tog ons buurskool. Ons is so gereed as kan kom, hoewel ons weet dat HPP ‘n sterk eersterugbyspan het. Gelukkig weet ons spanne dat jy jouself altyd teen krag moet meet. Ons spelers weet dit gaan taai wedstryde wees, maar HPP moet ook weet dat hulle solank hare op hul tande moet hê, in ‘n goeie sportmansgees bedoel natuurlik. Die netbal- en hokkiespanne sien uit na goeie wedstryde.”

Hennelie Pienaar, afrigter van die eerstehokkiespan, sê haar spelers is gereed. Dit is nou belangrik vir ons om te wen en so ook vir HPP. “Ek sê altyd vir die spelers dat wanneer hulle voel hulle is tevrede, dan moet hul weet die Here is ook tevrede. Elke spanmaat speel nie vir homself nie, maar vir die hele span.”

Die wedstryde begin om 08:00. Die eersterugbyspanne sal 12:10 op die A-veld uitdraf.

Bosveld wens albei skole se spanne sterkte toe.

lionel@nmgroup.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button