Local NewsNews

Huiswaardasie: Rekening styg skerp

Nadat 'n inwoner ongeveer R200 000 se opgraderings aan sy huis gemaak het, was hy geskok toe die munisipaliteit se waardasie van R1,35 miljoen na R2,78 miljoen verander het.

POLOKWANE – Die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het hom na Review gewend in verband met die saak en om ander inwoners te maan dat hulle die waardasie van hul eiendom op die munisipale waardasielys gereeld na moet gaan.

Eiendomme word ongeveer elke vyf jaar geherwaardeer, maar die waardasie styg ook jaarliks persentasiegewys soos deur die munisipaliteit vasgestel in hulle begroting.

Die inwoner se eiendomwaardasie het tussen die rekening wat hy in Mei ontvang het en die een wat hy in Junie ontvang het meer as verdubbel.

“Ek kon verstaan het as dit in Julie gestyg het met die persentasie soos aangekondig vir die nuwe finansiële jaar, maar sommer so skielik en dit met meer as dubbel die waardasie?” sê die inwoner en voeg by die aanslag van Mei (R650,49) en die daaropvolgende maand (R1 212,71) verskil gevolglik bykans R600.

Munisipalie Woordvoerder, Matshidiso Mothapo, het aan Review verduidelik dat die inwoner se waardasie van R1,35 miljoen in 2014 gedoen was. Hy het bygevoeg dat die inwoner in 2016 ‘n okkupasiesertifikaat ontvang het nadat verbeterings aan die huis aangebring is.

Dus, verduidelik Mothapo, “moes die huis weer waardeer word na die verbeteringe aangebring is en die nuwe waardasie van R2,78 miljoen, was by die supplementêre waardasierol gevoeg. Dié waardasie is effektief van Desember 2017 in werking gestel en die eienaar moes dus ‘n bedrag van R6 063,64 agterstallige fooie betaal en die maandelikse tarief is tans R1 212,71.”

Mothapo voeg by die munisipaliteit het ‘n brief aan die eienaar gestuur om hom van die waardasieverandering in kennis te stel en daar is voorgestel dat hy die waardasierol moet inspekteer en beswaar aanteken indien hy nie met die markwaarde van die eiendom saamstem nie.

Review het met ‘n ervare eiendomsagent, wat jarelange ondervinding het om huise te koop, op te gradeer en weer dan weer te verkoop, gesels.

Die eiendomsagent, wat liefs anoniem wou bly, het verduidelik dat ‘n eienaar hoogstens kan verwag dat die waarde van die opgradering, byvoorbeeld R200 000, verdubbel kan word by die herverkoop van ‘n huis.

So sal die huis wat byvoorbeeld vir R1,5 miljoen gekoop is en daar dan verbeterings van R200 000 aangebring is, verkoop vir ongeveer R1,9 miljoen, tensy die huis ver onder sy werklike waarde gekoop is.

Sy sê ‘n verdubbeling in waardasie klink vir haar vergesog, maar voeg by die area waar die huis geleë is speel ‘n belangrike rol.

Haar raad is dat die inwoner beswaar aanteken teen die waardasieverandering indien hy nie daarmee saamstem nie.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button