Oudleerder en gewese Mev Suid-Afrika inspireer leerders
Retah McPherson, voormalige Mev Suid-Afrika en oudleerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), het Woensdagoggend die skool se meisies en ma’s gemotiveer om in hulself en hulle talente te glo en om nie bang te wees om groot te droom nie. Sy het aan toehoorders gesê dat sy ‘n boodskap van God, geloof en hoop bring. “Glo …

Retah McPherson, voormalige Mev Suid-Afrika en oudleerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), het Woensdagoggend die skool se meisies en ma’s gemotiveer om in hulself en hulle talente te glo en om nie bang te wees om groot te droom nie.
Sy het aan toehoorders gesê dat sy ‘n boodskap van God, geloof en hoop bring. “Glo in jouself en moenie jou steur aan wat ander dink nie. Wat jy met jou talente doen, is wat saak maak.”
Sy het beklemtoon dat drome wel nie kan realiseer nie omdat die lewe die lewe is en dinge gebeur.
“Onthou egter jy het in alles ‘n keuse; of jy blameer ander of jy neem verantwoordelikheid. As die Here deel is van jou lewe sal hy die paadjie saam met jou stap.”
McPherson het verwys na haar seun, Aldo, wat op 12-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk breinskade opgedoen het. “Ek het die stukkies opgetel en met God se hulp aangegaan. As jou lewe in skerwe is, onthou al die stukkies is niks behalwe ‘n pragtige mosaïek van jou toekoms nie.”
Volgens PHS skakelbeampte, Elmari Craig, het menige meisies inspirasie by McPherson se boodskap gevind.
McPherson is Woensdagaand tydens ‘n glansgeleentheid as Pietie van die Jaar aangewys.
Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za



