Twee enorme verskilmakers word by PHS vereer
Die eer om vanjaar se Pietie van die Jaar te wees, het Retah McPherson Woensdagaand by ‘n luisterryke geleentheid in die stad te beurt geval. “As trotse Pietie het ek ‘n dankbare hart om deel te kon wees van ‘n ongelooflike groep mense in Polokwane en PHS-onderwysers wat ‘n groot impak op my lewe gemaak …

Die eer om vanjaar se Pietie van die Jaar te wees, het Retah McPherson Woensdagaand by ‘n luisterryke geleentheid in die stad te beurt geval.
“As trotse Pietie het ek ‘n dankbare hart om deel te kon wees van ‘n ongelooflike groep mense in Polokwane en PHS-onderwysers wat ‘n groot impak op my lewe gemaak het,” het sy met die oorhandiging van die oorkonde gesê.

Nadat Retah in 1984 aan Hoërskool Pietersburg (PHS) gematrikuleer het, het sy drie jaar later as skoonheidsterapeut aan Tshwane Universiteit vir Tegnologie gekwalifiseer. In 2004 word sy as stylvolle toonbeeld en sterk vrou met goeie kommunikasievaardighede as Mev Suid-Afrika gekroon en word ‘n rolmodel vir getroude vroue en ‘n ambassadeur vir die land.
Dit is egter dieselfde jaar wat haar, sowel as haar man, Tinus, en twee kinders se lewens onherroeplik verander toe die gesin ‘n ernstige motorongeluk oorleef en die oudste seun, Aldo (toe 12) aanvanklik sonder hoop met ernstige hoofbeserings in ‘n koma in die hospitaal was. Josh was twee jaar oud. Retah en Aldo het hoopvol in geloof bly bid en alhoewel Aldo vandag in ‘n rolstoel is en net die gebruik van een oog het, is hy vier jaar gelede getroud, droom groot en is ‘n tipiese voorbeeld van iemand vir wie niks onmoontlik is as jy in God glo nie.
Omdat hy so lank in ‘n koma was en weer moes leer praat, het hy alles wat hy tydens die koma en ‘n jaar later ervaar het, neergeskryf, veral dit wat hy in die hemel beleef het en die boodskap waarmee hy van God af teruggekeer het: “Vertel vir die wêreld dat Jesus leef en dat Hy jou eerste liefde moet wees.” Aldo en Retah het ‘n boek, Boodskap van God, geskryf wat in 15 tale vertaal, wêreldwyd versprei is en twee jaar as New York Times se beste verkoper aangewys is. Haar besondere lewenskwaliteite het in dié tyd sterk na vore getree en haar geloof in God loop soos ‘n goue draad deur haar lewe met ‘n geestelike bediening in Israel, Indonesië, Maleisië en Amerika. Sy spits haar ook op besielende motiveringspraatjies by skole toe en het ‘n onderneming wat produkte van Israel na Amerika invoer.
Postuum-oorkonde
Koos van den Heever se postuum-oorkondetoekenning is aan sy vrou, Petra, oorhandig wat in 1960 aan PHS gematrikuleer het.
Na sy matriekjaar het Van den Heever ‘n doktorsgraad in die regte behaal en nie net as akademikus uitgeblink nie, maar ook as professor en dekaan van die regsfakulteit aan die Universiteit van Limpopo. Deur sy toegewyde navorsing oor veral aspekte van die toorkuns en die konflik tussen die inheemsregtelike tugbevoegdheid en die Suid-Afrikaanse Regswese het hy ‘n uitsonderlike bydrae gelewer wat in meer as 18 publikasies vervat is. Waardevolle insette is ook tydens twee internasionale regskongresse in Skotland en Duitsland deur hom gelewer.
Hy het ook op verskeie professionele verenigings gedien en was lid van die internasionale Balieraad. In Suid-Afrika en Limpopo word hy onthou vir sy uitmuntende rol en leeue-aandeel wat hy as voorsitter van die Vredeskommissie voor 1994 as vredemaker by uitstek gespeel het en wat tot ‘n nasionale kommissie gelei het.
Storie en foto’s: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com








