PHS wys vroeg in krieketseisoen tande
Die eerste wedstryde van vanjaar se krieketseisoen is onderskeidelik onlangs tussen Hoërskool Pietersburg (PHS), Stanford Lake College (SLC) en Northern Academy Secondary School gespeel en Pieties het dit duidelik gemaak dat hulle vanjaar weer op die oorlogspad is. Die eerstespan het tydens hul wegwedstryd teen SLC gekies om eerste veldwerk te doen en hul opponente …

Die eerste wedstryde van vanjaar se krieketseisoen is onderskeidelik onlangs tussen Hoërskool Pietersburg (PHS), Stanford Lake College (SLC) en Northern Academy Secondary School gespeel en Pieties het dit duidelik gemaak dat hulle vanjaar weer op die oorlogspad is.
Die eerstespan het tydens hul wegwedstryd teen SLC gekies om eerste veldwerk te doen en hul opponente toegelaat om slegs 195 lopies vir vyf paaltjies in 35 beurte aan te teken. Tydens PHS se beurt voor die paaltjies teken hulle 196 lopies aan met Ivan Reynecke en Bart Oerlemans wat onderskeidelik 103 en
71 lopies bymekaar gemaak het.
Die o.15A-span het op hul tuisveld ook teen SLC uitgedraf en eerste hul paaltjies beskerm. SLC se flou veldwerk besorg PHS ‘n totaal van 264 lopies vir vyf paaltjies op die telbord met uitblinkers Jan Grobler (101), Gerhard Greeff (61) en Efan Meyer (34).
SLC se poging om Pieties se telling verby te steek het na 14,1 beurte op 51 lopies, almal uit, deur die mat geval en Pieties wen die wedstryd met 213 lopies. Die o.15B-span het ‘n steiler opdraand teen Northern Academy gehad. Pieties kon daarin slaag om Northern Academy vir 135 lopies almal uit te boul en behaal 136 lopies vir nege paaltjies tydens hul kolfbeurt om die wedstryd met een paaltjie te wen.
PHS-krieketorganiseerder, Linki Roodt, sê die o.15A- en eerstespan speel in die skole superliga terwyl die o.15B- en die meisiespan in die A-liga meeding.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com




