POLOKWANE – Mehale, ‘n internasionale atletiekafrigter, is onlangs deur die skool ingespan as deel van Curro Heuwelkruin se hoëprestasieprogram.
Die skool se Uitvoerende Hoof, Eben Lingenfelder vertel: “George sal verantwoordelik wees vir die afrigting van alle atlete van o/11 tot o/19 wat oor die potensiaal beskik om provinsiaal en nasionaal te presteer en sal toesien dat atlete nie net die korrekte tegniek aanleer nie, maar ook dat elke atleet deur ‘n gepaste voorseisoenprogram gaan en korrek gekondisioneer is.”
George was self ‘n Suid-Afrikaanse kampioen in die 400 m, asook op hoërskool, en die Suid-Afrikaanse senior kampioen in die 400 m.
In 1982 behaal George ‘n B.A.-graad in fisiese onderrig en gesondheid aan die Universiteit van El Paso in Texas en daarna verwerf hy sy meestersgraad in sportbestuur en administrasie aan die Long Beach Universiteit, Kalifornië, VS.
Vir 25 jaar rig George atletiek af by verskeie universiteite in die Verenigde State en bied hy ook fiksheid- en atletiekjeugkampe aan.
Hy het ‘n unieke gawe om talent in jong atlete te identifiseer.
Hy is ‘n gesertifiseerde fisiese fiksheidspesialis, gesertifiseerde waterfiksheidsinstrukteur en -afrigter, gesertifiseerde nasionale effektiewe afrigtingsprogramafrigter en gesertifiseerde besigheidskonsultant.
“Ons sien uit na ‘n blink toekoms vir Kruinie-atletiek,” sluit Lingenfelder af.




