POLOKWANE – Reeds vroeg in ‘n kind se lewe leer hulle hoe om te lees en te spel en dié kennis bly hulle by vir die res van sy lewe. Ouers sal dikwels vir die kinders vertel dat as hulle nie kan lees en spel nie, hulle nie vreeslik suksesvol in die lewe sal wees nie.
Jeané Scheepers (12) kons reeds in gr. R al vlot lees. Haar ma, Sonja, vertel dat sy as ma nie glo ‘n kind moet so vroeg begin lees nie. “Ek het haar nie geleer lees nie, maar dit moet haar talent wees, want ons kon haar nie keer om te begin leer lees nie.”
Jeané, ‘n leerder by Laerskool Pietersburg-Oos, het deelgeneem aan die nasionale WOW-spelfees in Stellenbosch waar sy as wenner van die gr. 6-afdeling aangewys is.
“Ons kry spellyste met woorde op wat ons dan leer. Daar is 28 spellers in die nasionale kompetisie en as jy net een woord verkeerd spel, is jy uit die kompetisie uit. Ons het vir drie en ‘n half ure lank gespel,” vertel Jeané.
Haar pad na die nasionale kompetisie het begin toe sy eers in haar skool deelgeneem het waaruit ‘n spang gekies is om aan die provinsiale kompetisie in Mokopane deel te neem. Hierna is sy aangewys om na Stellenbosch te gaan.
“Hierdie was my sesde jaar wat ek deelgeneem het en in gr. 3 was ek ook eerste. In gr.1 was ek tweede in die nasionale kompetisie.”
Sy vertel dat sy vreeslik lief is daarvoor om te lees, en dat, alhoewel sy Engelse boeke verkies, sy voor ‘n spel kompetisie net Afrikaans lees. Woorde wat sy moes spel sluit in spasiëring, onmeedoënd en relatiwiteitsteorie.
“Hulle vra 60% van die woorde wat ons moes leer en dan 40% woorde wat ons nie geleer het nie. Wanneer ons al die woorde vir die spesifieke graad klaar gespel het, tydens die kompetisie, dan beweeg ons aan na die volgende graad. Ek het tot by gr. 9-woorde gespel.”
Sy vertel dat om die woorde te leer, sy dit ‘n paar keer hard-op sê en uitspel. Haar wenprys was kontant, ‘n slimfoon, boekpryse, woordeboel, trofee en medalje.
‘n Mens sou dink dat Jeané na skool haar toekoms met tale sal voortsit, maar die jong meisie wil graag ‘n wetenskaplike word.




