Salomé bak en brou vir ekstra inkomste
Mens hoor al meer en meer van bejaardes wat alternatiewe planne maak om 'n inkomste te genereer. Een so paartjie is Salomé en Mac van Vuuren.
POLOKWANE – Tydens sy begrotingsrede vroeër vanjaar het Minister van Finanasies, Tito Mboweni aangekondig dat die pensioen wat aan bejaardes uitbetaal word, met R80 verhoog sal word. Dit bring die bedrag wat bejaardes verdien op na ongeveer R1800 per maand. Om met daardie bedrag geld te oorleef is ‘n stryd en ‘n mens hoor al meer en meer van bejaardes wat alternatiewe planne maak om ‘n inkomste te genereer.
Een so paartjie is Salomé en Mac van Vuuren. Salomé was vir jare werksaam by ‘n versekeringsmaatskappy terwyl Max by die lugmag gewerk het. Na hul aftrede het hulle ‘n mobiele koswaentjie bestuur.
“Ons was by verskeie feeste en skoue en ook motorfietsbyeenkomste. Dit was geweldige harde werk, maar lekker,” vertel Mac.
Tydens die Kierieklapper Kunstefees verlede jaar, het Mac ‘n hartaanval gehad en het die paartjie besluit om nie aan te gaan met die mobiele koswaentjie nie.
“Ons moes egter iets doen om geld in te kry en ek het besluit om weer te begin bak,” vertel Salomé. “Ek bak en brou al jare en het my oudste seun se universiteitstudies betaal, deur koeksisters te verkoop. Ek het in Januarie hierdie jaar weer voltyds begin bak.”
Sy vertel dat sy nie net koeksisters bak nie, maar ook beskuit, groot koeke, melkterte, brood en vleispasteie. Sy beoog ook om binnekort by verskillende markte haar gebak te verkoop.
“Hier is ‘n winkel vir wie ek elke week ‘n paar dosyn koeksisters voorsien, maar ek het nog nie regtig my eie kliënte nie. Ek kan enige iets bak op bestelling.”
Behalwe vir haar gebak, is Max ook handig en maak hy lampskerms en ornamente uit palmboomtakke. Hy maak ook items van hout soos kassies en horlosies.
Enige iemand van Salomé wil ondersteun kan haar kontak op 082 573 3003.





