Boere ondersteun regering wat erns het met landbou
Heelwat familieboere van regoor die partypolitieke spektrum is nog onseker oor die landboubeleid en -visie van politieke partye wat om hul stemme in die komende algemene verkiesing meeding. Boere stem nie almal vir dieselfde party nie, maar deel wel ’n belang in hoe beleid ontwikkel en geïmplementeer word en waarheen Suid-Afrika bestuur word. Dit is …

Heelwat familieboere van regoor die partypolitieke spektrum is nog onseker oor die landboubeleid en -visie van politieke partye wat om hul stemme in die komende algemene verkiesing meeding. Boere stem nie almal vir dieselfde party nie, maar deel wel ’n belang in hoe beleid ontwikkel en geïmplementeer word en waarheen Suid-Afrika bestuur word.
Dit is die mening van Theo de Jager, direksievoorsitter van die onlangsgestigte Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) in ‘n mediavrystelling. Volgens De Jager is die kommersiële landbousektor in Suid-Afrika steeds die mees mededingende in Afrika, en hou Suid-Afrika nog op koers as netto-uitvoerder van voedsel. “Onverantwoordelike grondhervorming, soos onteiening sonder vergoeding, kan produksie en mededinging egter ontwrig en voedselsekerheid in gedrang bring. Dit het in Zimbabwe, Venezuela en bykans elke ander land gebeur wat dié radikale grondhervormingsroete gekies het. Voorstaanders daarvan kon nog geen geloofwaardige aanduiding gee hoe dieselfde rampspoedige gevolge in Suid-Afrika vermy kan word nie,” sê De Jager en voeg by dat onteiening sonder vergoeding – of selfs teen vergoeding laer as markverwante – die totale landboufinansieringstelsel in Suid-Afrika aan risiko’s blootstel en nie in belang van landbou is nie. “Die Motlanthe-verslag oor grondhervorming wys duidelik dat die huidige wette en prosesse toereikend kan wees om grondhervorming suksesvol deur te voer en dat ’n klas van winsgewende swart boere geskep kan word mits korrupsie, wanadministrasie en nepotisme uitgeroei kan word.”
Volgens De Jager is water ewe belangrik vir die stabiliteit en groei van die landbousektor.
“Boere is afhanklik van ’n regering wat die belangrikheid van damme, infrastruktuur, nougesette en bekwame administrasie van water en die instandhouding daarvan verstaan en kan implementeer.”
“Elektrisiteitstekorte het die afgelope maande enorme skade aan boerderye veroorsaak. Suid-Afrika se landbou smag na ’n bestel waar elektrisiteit bekostigbaar en betroubaar op plase gelewer kan word – vry van stroping, korrupsie en wanadministrasie.”
De Jager sonder misdaad uit as een van die grootste remskoene vir landbougroei en is van mening dat dienslewering op munisipale vlak, elektrisiteitsvoorsiening, sosiale dienste soos onderwys en gesondheid, die onderhoud van infrastruktuur soos paaie, en hulp aan opkomende boere in die platteland onder korrupsie en selfverryking gebukgaan.
“Boere is nou op soek na ’n regering wat ’n beleidsomgewing kan skep waarbinne die landbou se winsgewendheid en volhoubaarheid kan gedy. Hulle wil ’n regering hê wat skoon administrasie najaag en ’n nierassige samelewing kan bevorder.
Boere sal vir ’n party stem wat landelike ontwikkeling ernstig opneem, wat die produksieprosesse ken en moeite doen om landbou in die geheel te verstaan,” sê De Jager.
Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



