BusinessNews

Europese Parlement geskok oor SA landbou-omstandighede

Die Europese Parlement, bestaande uit 751 verkose lede van die Europese Unie, is geskok oor die omstandighede waaronder boere in Suid-Afrika ‘n bestaan moet maak. Dit is die mening van Bennie Van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA ná ‘n onlangse besoek van ‘n afvaardiging van dié instansie aan Suid-Afrika as gaste van TLU SA. “Die …

Die Europese Parlement, bestaande uit 751 verkose lede van die Europese Unie, is geskok oor die omstandighede waaronder boere in Suid-Afrika ‘n bestaan moet maak.
Dit is die mening van Bennie Van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA ná ‘n onlangse besoek van ‘n afvaardiging van dié instansie aan Suid-Afrika as gaste van TLU SA.
“Die doel van die besoek was om hulle te vergewis van die stand van plaasaanvalle en -moorde, grondonteiening en geleenthede vir buitelandse be­leggings. Die afvaardiging het ook twee plase in die Cullinan-distrik waar plaasaanvalle plaasgevind en ‘n egpaar op hulle plaas vermoor is, besoek. Deur die nag het hulle deelgeneem aan ‘n plaaswag-patrollie om te verstaan hoe TLU SA se veiligheidstrukture werk en bydra om boere te beveilig,” sê Van Zyl in ‘n media­verklaring.
Volgens Van Zyl het Danilo Lancini, wat die buitelandse afvaardiging gelei het, sy skok oor die situasie rakende landbou in Suid-Afrika te kenne gegee. “Hy kon kwalik sy ongeloof beteuel oor die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë om boere te beskerm, die ekonomie te groei en beleggers te lok,” sê Van Zyl.
Lancini het sy hoop uitgespreek dat die Europese Parlement na afloop van die Suid-Afrikaanse verkiesing in Mei, druk op die regering sal uitoefen om dringend aandag te skenk aan hierdie kwessies, volgens Van Zyl.
“Ons is baie tevrede oor die verloop van die ontmoeting,” sê Louis Meintjies, president van TLU SA. “Met hierdie aksie het ons, ons goeie bande met Europa versterk. Dit is deel van ons internasionale veldtog vir steun en druk uit die buiteland om landbou en boere in Suid-Afrika te beskerm. TLU SA is reeds die afgelope dekade doenig met hierdie veldtog.”

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button