VIDEO: Jakes herstel goed na operasie
Lesers sal die drie-voetige hond, Jakes, se naam en storie nie gou vergeet nie.
POLOKWANE – Dié Africanis is met ‘n misvormde, onderontwikkelde voorpoot gebore en het uit haglike omstandighede by die dierebeskermingsvereniging opgeëindig. Hiér het hy binne in Magda Fernandes se hart gekruip en sy het hom aangeneem.
https://www.citizen.co.za/review-online/300720/video-drie-voetige-vriend-vind-n-huis/
Maandagoggend is Jakes na die Pietersburg Dierekliniek waar dr. Roelf van Rooyen die onderontwikkelde been sou amputeer.
“Hy moes gister al huis toe kom, maar die operasie was groter as wat die dokter verwag het, dus moes Jakes ‘n nag oorslaap,” vertel Magda op Woensdagmiddag terwyl Jakes by haar voete lê.
“Hy het in die vroëe-oggendure gekla en ek het hom toe weer toegemaak. Ek dink hy het koud gekry, maar hy hou nie daarvan om toe gemaak te wees nie. Dokter het hom nou op ‘n kursus antibiotika en hy het ook pynpille gekry.”
Sy vertel hoe hy haar hand onseker gelek toe sy hom Dinsdag by die veearts gaan haal het, selfs op pad huis toe was hy kop onder die lyf.
“Toe ons hier stop het hy om hom rond gekyk en toe hy besef hy is by die huis, was hy baie opgewonde. Ek dink hy het gedink ons gaan hom weg gee.”
Magda vertel daar is twee mense wat bygedra het tot die betaling van die rekening. “Carel Oosthuizen en Wilma Kruger het altwee bygedra. Carel het gesê sy twee honde skenk die geld nadat hulle ‘n vorige berig van Jakes gesien het. Ek is ongelooflik dankbaar.”
Jakes se steke word oor twee weke uitgehaal en intussen speel hy soos oudergewoonte met sy hondesussies en katboetie.





