Gemeenskap reik uit na bejaardes in nood
Die 78-jarige Koos Pelser en sy vrou Ellen het 'n gedeelte van hul huis asook al hul meubels verloor in 'n brand wat op 31 Maart op hul kleinhoewe op Soetdorings uitgebreek het.

POLOKWANE – Benewens die huis en die meubels is vier voertuie ook in die brand vernietig nadat een van die voertuie, vermoedelik weens ‘n kortsluiting, aan die brand geraak het.
Oom Koos se geliefde Mercedez Benz, ‘n vierwielmotorfiets asook ‘n ou Volla, wat hulle wou verkoop, is ook tot as verbrand.
Die motorhuis waar die brand ontstaan het, grens aan die huis.
Die Hervormde Gemeente in Ladanna wil nou ‘n fonds stig om die egpaar te help, vertel ds. Flip Snyders, leraar van die gemeente.
Hy sê die fonds sal deur die Pietersburg Maatskaplike Dienste bestuur word aangesien hulle alles in plek het om dit te kan doen en ook geouditeer word.
Enige bydraes sal hoog op prys gestel word. Dit kan inbetaal word in die rekening van die Pietersburg Maatskaplike Dienssentrum NPC, Eerste Nasionale Bank, Savannah, Takkode 200919, Rekeningnommer 62777190613.







