BusinessNews

Saai-voorsitter herkies as president van Wêreldlandbou-organisasie

Theo de Jager, bekende in Limpopo-landboukringe en uitvoerende direksie­voorsitter van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) is verlede Dinsdag in Luxemburg herkies tot president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO). Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê in ‘n mediavrystelling dat De Jager in 2017 die eerste Suid-Afrikaner was wat as president van die WLO verkies is en dat dit …

Theo de Jager, bekende in Limpopo-landboukringe en uitvoerende direksie­voorsitter van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) is verlede Dinsdag in Luxemburg herkies tot president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO).
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê in ‘n mediavrystelling dat De Jager in 2017 die eerste Suid-Afrikaner was wat as president van die WLO verkies is en dat dit die eerste keer in die organisasie se geskiedenis is dat ’n president van dié organisasie vir ’n tweede keer dien en ook eenparig herkies word. De Jager is deur Zimbabwe se Commercial Farmers Union (CFU), waarvan hy ook ’n erelid is, vir die posisie genomineer.
Die WLO bestaan uit ’n aantal landbou-organisasies, asook landbouvennootskappe en verteenwoordig ongeveer 1,5 miljard boere van 54 lande regoor die wêreld. Dit verteenwoordig ook die landbougemeenskap by die Ver­enigde Nasies (VN) en sy inisiatiewe.
“Dr de Jager het sedert 2017 internasionale steun veel wyer as vanuit die landbougemeenskap vir ’n boergedrewe agenda vir klimaatsverande­ring gewerf, wat veral by die VN en sy agentskappe groot byval gevind het. Hy is vasberade om verder aan dié agenda te werk om namens boere ’n globale burgerlike voorstel aan die VN te maak. Ná verskeie vergaderings met die Europese Unie en Russiese landbou-unies, en teen die agtergrond van toenemen­de handelspanning, beskou hy die beskerming van boere se toegang tot markte, ver­al in bederfbare voedselprodukte, as prioriteit vir sy tweede termyn. Hy glo die digita­lisering van landbou hou groot geleenthede vir Afrika in, en hy is ’n prominente kampvegter vir die modernisering, meganisering en kommersialisering van kleinskaalse landbou deur vennootskapsmodelle in kommunale Afrika,” sê Rossouw. “Dr De Jager is ’n uiters gerespekteerde landbouleier en word regoor die wêreld hoog geag veral vir sy leierskap, kundigheid en versiendheid,” het Leon Borcherds, direkteur van Saai, ná die aankondiging gesê.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button