Kanker se vyand – chemoterapie
Algemeen bekend is chemo die rede waarom kanker lyers so siek word en hulle hare uitval. Review het met onkologiesuster, Petro Grobler gesels oor chemoterapie.
POLOKWANE – Chemoterapie is iets waarmee kankerpasiënte gekonfronteer word, indien hulle sou kies om kanker te beveg. Algemeen bekend is chemo die rede waarom kanker lyers so siek word en hulle hare uitval. Review het met onkologiesuster, Petro Grobler gesels oor chemoterapie.
“Daar is baie verskillende soorte kanker. Sommige kankers is beperk tot ‘n sekere deel van jou liggaam. Deur die jare word daar mediese proeflopies gedoen om te bepaal watter soort chemo vir watter kanker werk. Daar is protokolle, dit is chemo wat net vir ‘n seker soort kanker werk.”
Lees meer: Is dagga ‘n oplossing?
Sy verduidelik dat die chemoterapie wat in Polokwane beskikbaar is, ook in Pretoria of Johannesburg beskikbaar is. “Om kanker te hê en chemo te ondergaan is ‘n moeilike pad, dus moet jy ‘n goeie verhouding met jou dokter hê en jy moet hom vertrou.”
Petro, wat tans by dr. Zirk Jansen se spreekkamers werk, vertel dat die medikasie die kanker onderdruk. “Die chemo kan veroorsaak dat die kanker weggaan. Indien dit terugkom, word ‘n nuwe protokol gebruik om dit teen te veg. Party soorte kankers het baie protokolle, ander het nie so baie nie.
Oor die kostes van dié medikasie verduidelik Petro dat daar wel baie uitgawes aan die ontwikkeling daarvan is. Hoe langer dit egter op die mark is, veral 10 jaar en langer, hoe goedkoper word dit. Jy kry, soos met ander medikasies, ook generiese chemo-medikasie.
“Jou liggaam werk op die vervaardiging van nuwe selle. Jou hare, naels, vel en bloedselle in jou mond en in jou voortplantingsorgane vernuwe gedurig. Kanker is die groei van abnormale selle. Normaal groei verander oor tyd, soos ‘n mens ouer word. Daar is twee soorte abnormale selle naamlik goeies en slegtes. Goeie beïnvloed nie jou liggaam se groei nie terwyl die slegtes die groei beïnvloed. Dit is dan ‘n kwaadaardige gewas. Die gewas wat nie kwaadaardig is nie, bly ook in een plek.”
Petro vertel verder dat chemo’s verskil van mekaar en dit werk in op die groei van selle. Alles werk in op die fases van groei en beïnvloed nie net kanker selle nie.
“Ons het ‘n chemo wat rooi is en noem dit Februarie chemo. Dit tas die haarselle aan. Aangesien die hare nie abnormale selle is nie, kan dit herstel na die chemo. Die chemo val jou bloedselle ook aan, dit is hoekom jy moeg raak. Rooi bloedselle word aangetas en jou immuniteit is af want die wit bloedselle word aangetas. Chemo maak jou siek, veral jou lewer en daarom is dit belangrik dat jy gesond eet.”
Daar is verskillende maniere hoe om chemo in te neem, dit sluit in pille, binneaars, room en inspuiting. Deur jou binneaar word die chemo dadelik in jou liggaam opgeneem.
Behalwe chemoterapie is daar ook hormonale terapie en bestraling.




