Jacques benodig bydrae om kaak te verleng
Sonder ‘n kakebeen kan ‘n mens nie behoorlik eet nie. Die kakebeen vorm die raamwerk van jou mond en gesig.
POLOKWANE – Die bo-kaak (maxilla) is onbeweegbaar, maar die onderste kaak (mandibel) kan beweeg. By Jacques Swanepoel (16) is dit nie die geval nie. Sy onderste kaak kan glad nie beweeg nie, en is onderontwikkel. Sy ma, Aneleez, vertel Jacques het drie weke na sy geboorte breinvliesontsteking opgedoen waarna hy ‘n breinstent gekry het.
“Dokters het hom slegs ‘n 1% kans op lewe gegee. Op die X-straal het dit gewys dat die linker onderbrein nie ontwikkel het nie. Hy sou nooit kon loop of praat nie.”Dit was ook in hiérdie tyd dat Jacques se ouers en die dokters agtergekom het die jong baba kan nie sy mond behoorlik oopmaak nie. Hulle kom agter dat die regterkant van die kaak solied is en nie ‘n lit het nie.“Ongelukkig moes Jacques eers groei en ouer word, en al sy tande moes eers groei, voordat hy ‘n prosedure kon ondergaan om dit te herstel,” vertel sy pa, André.
Dié langverwagte operasie, ‘n eerste van drie, vind plaas op 14 Oktober en Jacques vertel hy is nogal bang. “Ek is bang vir wat voorlê, vir hoe seer dit gaan wees. Al was dinge nie altyd maklik nie het ek wonderlike vriende wat my ondersteun en bystaan. Hulle sal selfs vuisslaan vir my. My onderwysers is ook wonderlik.”Na die eerste operasie sal Jacques ‘n apparaat dra om die kaak te heg. Met die hulp van dr. Frikkie Redelinghuys moet dié apparaat dan elke dag gestel word.
Jacques moet die apparaat vir 12 weke dra waarna die skarnier dan gebou sal word. “Jacques sal weer op 27 jaar en 35 jaar dieselfde operasies moet ondergaan. Na hy herstel het van die breinvliesontsteking, moes hy elke maand dokter toe gaan vir opvolgbesoeke, dan, na ‘n ruk, was dit elke derde maand. Toe ses maandeliks, jaarliks, tweejaarliks en vyfjaarliks,”vertel Aneleez. Met dié dat Jacques se kaak onder-ontwikkel is, sukkel hy om te eet en André vertel dat hy slegs voor sekere mense sal eet. Dit veroorsaak dat hy ondergewig is, en nie, soos die res van sy vriende rugby kan speel in sy ouderdomsgroep nie. Hy kan nie bloedskenk of aan atletiek deelneem nie.
“Jacques kon nog nooit ‘n tandarts besoek nie, aangesien sy mond nie groot genoeg kan oopmaak nie. Sy uitspraak van woorde is normaal en hy het aangepas om so normaal as moontlik te lewe,” vertel André. Die gesin behoort aan ‘n mediese fonds, maar dié dek slegs die prosedures en nie die apparaat nie. Hulle benodig R250 000 wat konsultasies twee keer ‘n week insluit asook X-straalplate en addisionele doktersonkoste.
Vir inwoners wat ‘n bydrae wil maak:
Capitec Bank
A Swanepoel
Rekeningnommer: 1660908270
Takkose: 470010
Verwysing: Jacques fonds
Die Swanepoels vra of daar iemand is wat hulle kan help om die geld te administreer. Ons wil ook graag vir almal dankie sê wat reeds bygedra het. Julle is regte engele,” sê Aneleez.




