Local NewsNewsUpdate

Brand: ‘Gerugte dat hy toegesluit was, is onwaar’

‘n Inwoner het om gekom toe ‘n huis by die Ons Hawe-skuiling vir haweloses op Myngenoegen verlede Donderdagaand in ‘n brand in puin gelê is.

POLOKWANE – Jaco Harmse is ‘n epilepsielyer wat vroegaand reeds in die bed gesit is nadat hy sy medikasie gekry het. Hy was alombekend in die omgewing.

Lees meer: Man kom om toe brand skuiling in puin lê

Die brand het rondom 19:00 uitgebreek en die Waaksaamheidsnoodgroep van Myngenoegen was gou op die toneel om bystand te verskaf. “Die brand het die buitegebou wat die skuiling vir enkelmans is, vernietig. Daar het ten tyde van die brand slegs drie mans gewoon in die gebou, wat sewe kon huisves. Die ander twee mans is tydelik na ‘n ander huis oorgeskuif,” vertel Marina Labuschagne, wat die kleinhoewe waarop die skuiling is huur.

Sy sê die krag was die aand af en hulle het ‘n kragopwekker gebruik. Teen die tyd dat iemand alarm gemaak het, was die vlamme te erg om by Jaco uit te kom.

Marina sê Jaco was soos ‘n kind vir haar. “Mense in die dorp versprei gerugte dat hy in die kamer toegesluit was, en dit is nie waar nie. Sy kamer het nie eers ‘n deur gehad nie, en die deur na die gebou was altyd oop, sodat die vrou wat na Jaco omsien daar kon inkom indien hy in die nag ‘n epileptise aanval sou kry.”

Sy sê die polisie en nooddienste-personeel was binne minute op die toneel. Jaco se ma is blykbaar jare gelede al oorlede, en hy word deur sy pa, broer en suster oorleef. Marina het almal wat hulp verleen het en donasies gegee het, bedank.

“Skenkings van nie-bederfbare kos, linne, handdoeke en komberse is steeds welkom,” sê sy. Sy het ‘n skenking van klere en mieliemeel van die VF+ ontvang, en ook voedsel van Sassa.

“Ek is gevra om na hulle kantore te kom, nogal op ‘n Saterdag. Toe ek daar kom, het hulle mieliemeel en kookolie geskenk. Ek kon nie ophou huil nie! Die munisipaliteit het aangebied om te help met koste vir die begrafnis, en daarvoor wil ek vir die wyksraadslid van wyk ses, Mapula Phoshoko bedank.”

‘n Gasstoof is ontvang, en Marina sal ‘n donasie van ‘n gasbottel baie waardeer. ‘n Polisie-ondersoek na die oorsaak van die brand is nog nie afgehandel nie. Begrafnisreëlings was teen die tyd van die ter perse gaan van die koerant nog nie bekend nie.Marina wil graag ook die polisie, munisipaliteit en EMS hulpdienste bedank vir hul spoedige reaksie en hulp. Persone wat ‘n bydrae wil stuur kan vir Pastoor Okkie Britz skakel by 084 680 5678, of vir Marina by 064 518 0903.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button