Local NewsNews

Vlerke van herinnering: Niek Behr só onthou

Polokwane inwoner, Niek Behr het 'n dag nadat sy vliegtuig in 'n veld neergestort het, aan sy wonde beswyk.

POLOKWANE – Om iemand aan die dood af te staan is nie maklik nie, veral nie as jy in ‘n vreemde land ver van jou geliefdes is nie.

Leandri Roberson bly in Nieu-Seeland en het onlangs haar pa, Niek Behr, in ‘n vliegtuigongeluk verloor.

Op Facebook skryf sy: “Een van my grootste vrese en bekommernisse van in ‘n ander land bly, weg van familie af, is die realiteit dat daar ‘n dag sal kom wat iemand iets sou oorkom en ek vanaf ‘n afstand daarmee sal moet deal en nie in die oomblik daar sal kan wees nie. Daai realiteit moet ek nou face. Ek is dankbaar vir foto’s, soveel mooi memories vasgelê waarna mens kan kyk, kan onthou, die mooi en die kosbaar. Pa het ons blootgestel aan so baie adventures…vir dit is ek dankbaar. Pa was nooit bang vir enigiets nie, ons eie Rambo. So is Pa van ons af weggeneem, maar Pa het gedoen waarvoor Pa lief was, en dit is goed.”

Al is sy ver, bring dit haar vertroosting om te weet dat haar pa ‘n vol lewe gehad het. “Dis baie tragies wat gebeur het en niemand wil iemand verloor vir wie hulle lief is nie, maar hy is weggeneem van ons af terwyl hy besig was om iets te doen waarvoor hy lief was. Die afstand is moeilik en al wil ons hoe graag by my familie in Suid-Afrika wees in die tyd, is die risiko’s net te groot om nou te reis. Weens die afstand en omdat ek swanger is, is foto’s van my Pa na die ongeluk nie met my gedeel nie en kan ek verby dit kyk vir nou en die mooi onthou,” verduidelik sy.

Leandri sê hul vriende aan daardie kant ondersteun hulle baie gedurende die tyd. “Wanneer mens so ver weg is vanaf mens se familie, word die vriende wat jy maak soos familie. Ek dink aan die goeie, die mooi, kyk terug na fotos en is sag met myself. Party dae is oukei en ander dae nie – en dis oukei. Daar is egter baie skuldgevoelens en magteloosheid wat gepaard gaan met die afstand. Ons sou graag wou help met die ‘op pak’ van my pa se lewe en die administratiewe dinge rondom sy dood, maar ons kan nie.”

Leandri se broer, Wietsché Behr, woon in Centurion en vertel sy pa se afsterwe is vir hom swaar.

“Daar was nog so baie dinge wat ons kon en moes deel, veral met my 16 maande oue dogtertjie. Ek weet daar is ‘n groter plan met als, maar ek kan nie help om te voel hy was heeltemal te vroeg van ons af weggeneem nie. Hy was gesond en vol lewenslus. Ek is besig om ons gesin te verhuis, en dit hou my verskriklik besig terwyl ek probeer om my pa se dinge ook te reël. Dit hou my aan die gang, maar ek weet as dinge tot ruste kom, gaan dit my baie hard tref.”

Scheepers Coetzee is Niek se kollega en vertroueling. Hy onthou Niek as ‘n avontuurlustige mens wat altyd gereed was om iets nuuts aan te pak. “Hy was altyd bereid om te luister en goeie raad te gee. Ek sal nooit vergeet hoeveel roomys hy na selfs drie borde kos kon eet nie. Daar was altyd plek vir roomys iewers.” Scheepers en sy vrou, Nadia, verwag ‘n seun en hulle het besluit om hom Niek te noem.

Leandri vertel Niek het Scheepers “Skippie” genoem. “My Pa het nie geweet hy gaan vernoem word nie, maar sy dink hy sou ongelooflik geëerd gewees het.”

Niek se gewese vrou, Adri, vertel sy afsterwe was ‘n groot skok. “Dit is baie hartseer, want ons woon nie in Polokwane nie, en was eers die dag na die ongeluk daar. Wat ek gehoor het by Scheepers, was skokkend.”

Woorde wat Niek se geliefdes gebruik om hom te beskryf sluit in; “Never a dull moment”, “bang vir niks”, “Pappa sal plak”, “rough and ready” en “Rambo”.

Leandri onthou haar pa as ‘n interessante mens wat voluit geleef het en vir niks bang was nie. “Hy was altyd reg vir die volgende avontuur en het vele talente gehad. Hy het alles self gedoen en was hardwerkend en handvaardig.”

Wietsché sê die woorde ‘‘n boer maak ‘n plan’ pas by sy pa. “Al was hy nie ‘n boer nie en het ook nie noodwendig ‘n plan gehad nie, het dit hom nie terug gehou nie.”

Niek het baie stokperdjies gehad en was altyd bereid om iets nuuts te probeer. Hy was gaande oor jag, duik, kamp, visvang, vlieg en lees, veral boeke van Louis L’Amour. Hy het ook model vliegtuie gebou en gevlieg.

“Hy was ‘n goeie pa vir ons en het hard gewerk om aan al ons behoeftes te voorsien. Hy’t ons blootgestel aan soveel avonture, ons het saam hom gejag, motorfiets gery, diepseevis gevang, geduik en gereis. Hy was beskermend maar het nie mens se vlerke geknip in die proses nie. Hy het toegelaat dat ons, ons eie paadjie stap, maar was altyd daar om ons te vang, vertroos of om raad te gee as dinge nie noodwendig uitgewerk het soos ons gedink het dit sou nie. Hy het nooit sy opinies op ons afgedwing nie,” onthou Leandri.

Wietsché voeg by dat Niek ‘n probleemoplosser was en nooit stil gesit het nie. Hy was altyd bereid om ander te help, wou alles self regmaak en het hard gewerk om vir sy kinders te voorsien en hulle te help om ‘n toekoms te bou.

“Vriende van ons het ons onlangs oorgenooi vir ete en ons het aan tafel gesit en seker vir so uur lank net stories en staaltjies vertel oor my pa. Dit was lekker, vir ‘n oomblik was ou ‘Rambo’ daar by ons en het ek vergeet van die wreedheid van wat gebeur het,” verduidelik Leandri.

Leandri skryf verder: “Elke dag kyk ek na pa se WhatsApp en so word die last seen online langer en langer… Ek weet eintlik nie wat ek verwag nie, of Pa weer aanlyn gaan kom nie. Ek het vir pa die boodskap gelos, gedink pa sou dit wel een of ander tyd kan lees, min wetend.”

Ai Pa. Ek weet nie of Pa ooit hierdie sal kry nie, maak seker nie saak nie, dit laat my net beter voel om hier vir Pa te kan skryf, want ek kan nie met Pa praat nie, ek kan nie daar wees nie, ek kan nie langs Pa sit en Pa se hand vashou nie. Ek kan Pa nie versorg nie, ek kan niks eintlik van hier af doen nie en dit laat my so magteloos voel. Dis nog altyd my grootste vrees en bekommernis dat iets met my familie gebeur en ek kan nie daar wees nie. Toe ek vanoggend die nuus hoor was ek so dankbaar om te hoor Pa leef… dit moes verskriklik erg en seer vir Pa gewees het, sal steeds wees. Ek wag om meer te hoor. Ek hoop om met pa te kan praat, ek het so groot geskrik. Ek sê dit te min, maar ek hoop Pa weet, ek is so lief vir Pappa.

Lees meer oor Niek in vandeesweek se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button