Local NewsNews

‘Ent’ aan Covid-19: Jong apteker sit hand by

Vicus Coetser (24) het onlangs 'n kursus voltooi om betrokke te wees by die inentingsprogram.

POLOKWANE – Ongeveer 100 000 mense is reeds in Limpopo teen Covid-19 ingeënt, maar talle het steeds hulle bedenkinge oor die entstowwe. 

Review het met Vicus Coetser, ‘n oud-leerder van Hoërskool Pietersburg wat na skool in die aptekerswese sy passie gevind het, gesels om sy opinie te hoor oor die inentingsprogram. 

Vicus het onlangs ‘n kursus voltooi om betrokke te wees by die inentingsprogram.

“Die organisasie wat die proef georganiseer en deurgevoer het, het aptekers nodig gehad om die entstowwe op te trek in die inspuitings, om seker te maak die korrekte dosisse word opgetrek en die korrekte bergingstoestande word gehandhaaf. Ons moes eers die Good Clinical Practice kursus voltooi en praktiese opleiding ontvang, waarna ons gedelegeer is om onder die organisasie te help met die deurvoer van die kliniese proef.”

Nadat hy die kursus voltooi het, kon hy deelneem aan die Johnson & Johnson Sisonke-entstofprogram. Die kursus sluit ook praktiese ondervinding in omdat die inentings deur aptekers opgetrek moes word tydens die proef.

“Die kursus was baie omvattend en ek het geleer dat navorsing nie net belangrik is nie, maar nodig is. Dit het ook enige twyfel wat ek gehad het rakende die Sisonke-proef, soos die veiligheid van pasiënte en die deeglikheid van die navorsing agter die entstowwe, weggeneem.”

Waarom is inentings belangrik:
“‘n Entstof is op hierdie stadium die mees praktiese uitweg vir ons as mens om weer ‘n normale lewe te lei. Kudde-immuniteit is wanneer genoeg individue in ‘n bevolking immuun is teen ‘n sekere siekte dat kontak tussen nie-immuun individue met geaffekteerde individue tot so ‘n mate sal daal dat die siekte nie oorgedra word nie. Wat ons probeer bereik met die entstof is om genoeg mense immuun te maak, of ten minste ‘n baie laer kans het om die siekte te kry, om sodoende die mense in die gemeenskap wat die mees vatbaarste is vir die siekte, te beskerm. Op die stadium is immuniteit sleg deur twee roetes bekombaar; inentings en om die siekte self te kry. Ek dink dis maklik om dan te besluit watter een van die metodes mens eerder sal wil kies.”

Vicus verduidelik dat twee siektes wat selfs dodeliker was as Covid-19, Polio en Duitse masels, byna uitgewis is deur die gebruik van inentings.

“Die Sisonke-proef was deel van die Johnson & Johnson se fase IIIb proef. Fase III is die laaste van drie fases voordat die entstof geregistreer is. Geneesmiddels mag slegs as Fase III geregistreer word indien daar genoeg bewyse is dat dit 100% veilig gaan wees vir mense.”

Viicus het gespring die oomblik toe hy die entstof kon kry en is vandag, drie maande later, steeds gesond en glo hy dat hy lankal sou siek word indien hy dit nie gekry het nie, aangesien hy met baie pasiënte in kontak is.

“Die bekende skrywer, Ralph Waldo Emerson, het gesê; ‘Knowledge is the antidote to fear’. Indien jy bang is vir die entstof of vir die newe-effekte daarvan, gaan lees op oor dit deur artikels en studies na te gaan wat al gedoen is deur mense wat geleer het om hierdie studies te doen en te interpreteer. Indien jy ‘n WhatsApp-video van jou tannie Johanna ontvang wat sê dat inentings ons gaan laat muteer, die regering in staat stel om ons te agtervolg of die helfte van die bevolking gaan uitwis – vra eerder vir haar waar sy dit gekry het. As mens mooi daaroor nadink, sal ek eerder luister na bevindinge waarop mense hulle name sit as WhatsApp-video’s of Facebook plasings deur onbekende mense wat heel waarskynlik net verwarring wil saai of hulle teorieë wil versprei.”

Laastens vertel hy Suid-Afrika is nie ‘n leier in entstof-ontwikkeling nie, so die kans is baie skraal dat ons ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van die entstof op die mark sal sien.

“Ek weet wel dat Suid-Afrikaanse farmaseutiese maatskappye soos Aspen Pharmacare en BioVac ooreenkomste aangegaan het met internasionale leiers in die enstof-veld genaamd Johnson & Johnson en Pfizer onderskeidelik. Hoewel die entstowwe tans nog ingevoer word, poog hierdie maatskappye om binnekort die entstowwe op plaaslike grond te vervaardig,” sluit hy af.

Lees meer oor Vicus in vandeesweek se Polokwane Review. 

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button