Local NewsNews

Ikoniese landmerke: Geliefde argitek se nalatenskap

Schalk van der Merwe (62) het diep spore in die Polokwane gemeenskap getrap, nie net as argitek en besigheidsman nie, maar ook as vriend.

POLOKWANE – Schalk is op Sondag, 6 Junie, oorlede na hy vroeër met Covid-19 opgeneem is.

Schalk en sy vrou, Erina, en hul oudste seun, SM, het in 1987 na Polokwane verhuis waarna hy Prism Argitekte in 1997 gestig het. Deur die jare het hy verskeie mense se lewens aangeraak.

Sy groot vriend, Riaan Weideman, onthou hom as hardwerkend.

“Ons het hom amper 34 jaar gelede leer ken. Dit was nie net vir ons nie, maar ook vir baie ander in die boubedryf, ‘n voorreg en ‘n besondere tyd wat ons saam met Schalk projekte kon voltooi. Nou is hy in die huis wat sy Vader vir hom gebou het.” 

Ds. Frikkie Delport som Schalk se lewe in sewe woorde op: “Wat jy sien, is wat jy kry.”

“Dis wat ek 34 jaar lank van hom ervaar het. ‘n Israeliet sonder bedrog. Iemand wat die reguit pad loop, ook wanneer dit by sy byna kinderlike, onwrikbare geloof in God kom. ‘n Ware vriend. Betroubaar en lojaal. Lief vir sy vrou en kinders en nie skaam om dit te sê en te wys nie. Iemand wat uit sy pad gegaan het om te help. Ek salueer jou my vriend en o ja, ek mis jou.”

Louis Scott vertel Schalk was ook betrokke by Hoërskool Pietersburg. “As lid van die beheerliggaam was hy ten nouste by die ontwikkeling van PHS se spoggerige terrein betrokke. Prism Argitekte het op PHS onskatbare waardetoevoegings gemaak soos met die waghuis voor die skool, die sportkleedkamers langs die swembad en die ontwerp van die Tom Boshoff Raadsaal. Daar is twee groot toekennings, die Van der Mewe Kultuurtoekenning en die Prism Argitekte toekenning wat die skool jaarliks toewys by die hoofprysuitedeling.”

Erina en Schalk van der Merwe.

Schalk se vrou, Erina, onthou hom as iemand met ‘n groot geloof wat sy hele wese en lewe op die Here se Woord gebou het.

“Reg was reg en verkeerd is verkeerd. Of jy ‘n koning is, as jy verkeerd is sal hy jou aanvat in geen onsekere taal nie. As jy ‘n straatveër is, sal hy sy alles vir jou gee. Status het geen rol gespeel nie. In sy hart was hy met die minste tevrede met homself. Sy vrou en kinders, en die mense wat saam met hom gewerk het, was sy alles. Hy’t my altyd laat voel ek is die mooiste vrou wat nog ooit geskape is en sy liefde vir my was eindloos. Ek gaan mis hoe ons alles saam gedoen het en dat ek emosioneel en fisies ‘n eenheid was met hom.”

Schalk saam met sy seuns, Tian Venter, SM en Norman.

Sy oudste seun, SM, dink terug aan die tye wat hulle saam om ‘n vuur kon sit en gesels oor hulle lewens.

“My pa was ‘n logiese man en het altyd die regte antwoord gehad. Hy was baie ondersteunend en was altyd daar as ons hom nodig gehad het. Hy het altyd raad en leiding gehad en het ons geleer om respek vir almal te hê, veral jou mindere. Hy het my geleer hoe om ander lief te hê. Hy het my geleer hoe om ‘n vrou, en spesifiek jou vrou, met soveel liefde te oorlaai asook hoe om volgens God se beginsels te leef en elke dag Bybelstudie te hou.”

SM se vrou, Lehandré, onthou hoe sy saam met hom kon filosofeer oor die land en herkoms en ons mense, die Here en alles anders wat hy lekker oor kon gesels.

“Ek wil een van sy awkward maar liefde-belaaide drukkies hê, met ‘n ligte klop op die rug waar hy net sê; ‘Hallo Lollie, soek jy ‘n glas wyn?’”

Schalk van der Merwe saam met sy dogters, Isabelle en Lehandré.

Isabelle Venter is Schalk se enigste dogter en getroud met Tian. Hulle onthou hoe Schalk altyd gesê het ‘n vrou is tot netsoveel in staat as ‘n man.

“As jy in sy binnekring was het hy die aarde op sy kop gedraai om jou lewe beter te maak. Hy het ons gewys hoe ‘n man ‘n vrou moet lief hê en respekteer. Hoe ‘n pa sy kinders moet lief hê as individue met hul eie opinies en persoonlikhede en hoe hy elkeen help bou en ontwikkel het.”

Tian voeg by hoe hy by Schalk geleer het hoe om hard te werk en sy familie en die gemeenskap te dien.

“Hy het hoë standaarde gehad en het altyd integriteit getoon, hy was ‘n onselfsugtige voorsiener.” 

Norman is Schalk se jongste seun en onthou sy pa as een van die grootste voorbeelde oor hoe ‘n ware Christen moet wees.

“My pa was ‘n voorbeeld vir my oor presies hoe ‘n man sy vrou moet hanteer en ‘n pa vir sy kinders moet wees. Hy was die man wat ons altyd sal bederf en ondersteun in als wat ons doen. Stel ander voor jouself want dit is wat ons doel is om ander te help. Die laaste paar maande wat ek by my pa gewerk het, het hy vir my so baie geleer oor hoe om werklik op die mees effektiefste manier ‘n besigheid te bestuur en ek sal dit altyd in my loopbaan toepas en as fondasie gebruik. Pa was werklik ‘n rots in die samelewing en ek kan net wens om eendag die man te wees wat pa was.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button