Wipneusadder maak hom tuis tussen motors
'n Motorhandelaar in Mokopane het vandeesweek 'n ongenooide gas gehad.
MOKOPANE – Dié slang was ongeveer 10cm lank maar kan tot 43cm groot word. Dit is ‘n skaars spesie wat maar op min plekke in die land voorkom, en is ‘n klein tot mediumgroote slang met ‘n kort stert. Die kop is anders as die nek met ‘n opwaartse snuit, en vandaar die naam, wipneusnagadder.
Die adder het sitotoksiese gif met ‘n opbrengs van ongeveer 10-15mg op ‘n slag. As gevolg van ‘n lae gifvolume is die meeste byte nie ernstig nie, met ligte tot matige swelling van die ledemate met pynlike limfkliere. Teengif is dus nie nodig vir die behandeling nie.
Slangkenner en -vanger Pieter Swanepoel verduidelik dat dit ‘n baie droë tyd van die jaar is in Mokopane en daar nie veel water in die veld beskikbaar is nie. Hy sê dat inwoners tuine besproei en sodoende voëls, muise, rotte en so ook slange lok wat hierdie diere jag. “Slange is skaam en sal probeer om alle kontak met mense te vermy, so ons sien hulle selde in die dorp. Ek kan wel met vrymoedigheid sê dat daar baie is, want kos is volop.”
https://www.citizen.co.za/review-online/446350/watch-black-mamba-pays-local-coffee-shop-a-visit/
Pieter sê meeste inwoners dink dat slange in die winter hiberneer. “Suid -Afrika se winters is te kort en te warm vir slange om in ‘n winterslaap te gaan. Die koeler weer veroorsaak dat dié koudbloedige diere se metabolisme vertraag en voedsel stadiger verteer word. Hulle kan dan minder jag en word dus minder gesien. Dit is egter nou weer die tyd dat slange begin soek na kos en begin beweeg.”
Hy sê dat hy die afgelope paar weke verskeie oproepe gehad het waar gemeenskapslede vir hulp vra. Daar was ook een bytgeval buite die dorp deur ‘n sypikslang. Hy waarsku die gemeenskap om versigtig te wees, liewer afstand te hou en kontak te vermy eerder as om self te probeer slange vang.
As u ‘n slangvanger nodig het, kontak vir Pieter by 082 336 6200 of vir Bart Fourie by 079 233 5122. Pieter nooi die gemeenskap uit om kursusse oor identifikasie, noodhulp en hantering van slange by te woon deur African Reptiles & Venom institution by info@africanreptiles-venom.co.za te besoek vir meer inligting.




