Besige brakke maak hondeskou ‘n reuse sukses
Honde, van jonk na oud, was oral by Thornhill Winkelsentrum te sien waar hulle besig was om die een na die ander titel vir hul eienaars bymekaar te maak.

POLOKWANE – Thornhill Winkelsentrum het verlede Saterdag met Von Zwei Dog Training and Social Club hande gevat om die sentrum se eerste hondeskou op hulle terrein te hou.
Shawn en Anita Blignaut, Jeannie Aveling en Blessing Mafokoane was beoordeelaars vir dié dag. Kategorieë het baba hondjies (tussen drie en ses maande oud), wapperste stert, mees aanloklike oë en beste ses bene (hond en eienaar wie die mooiste aantrek) ingesluit.
Honde kon ook pryse wen vir die beste kruisras, beste raseg-hond, mees aantreklikke hond, mooiste teef, beste veteraan (enige hond van sewe jaar of ouer), beste versorg, beste junior hanteerder en beste tuistoertjie.
Die opleidingskool het hondjie behendigheid, snuffel leiding asook ‘n kapingscenario vir die gehoor gedemonstreer.
Hennie Kleinschmidt en sy hond Leo het die beoordeelaars beïndruk met Leo se vriendelike en borrelende persoonlikheid, wat gemaak het dat hy met ‘n eersteplek in die wapperste stert-afdeling gepronk het.
Suné Bacher en Blikkies het eenderse uitrustings gedra en met die ‘hond van die dag’ titel huis toe gegaan.
Thornhill Winkelsentrum se bemarkingsbestuurder, Marise Rademan, het gesê hulle was gretig om vir die eerste keer gasheer vir so ‘n opwindende skou op hulle perseel te wees.
“Omdat alle honde in baie maniere verskil het ons streng reëls gehad om te verseker dat al die honde heeltyd aan hulle leibande was. Ons het ook bewys van die honde se inentings gevra voordat ons hulle kon toelaat om aan die kompetisie deel te neem,” vertel sy.
Dit was die hondeienaars se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle agter hulle honde aan skoonmaak en dat hulle genoeg water vir hulle troeteldiere gehad het. Thornhill se bestuur was beïndruk met die hoeveelheid mense wat opgedaag het vir die hondeskou.
“Dit was ‘n opwindende dag vir mens en dier tegelyk. Mense was beïndruk deur al die aktiwiteite wat die honde kon uitvoer en elke liewe vertoning was die moeite werd om te kyk. Ons wil graag almal wat aan die skou deelgeneem het en die dag ‘n sukses gemaak het hartelik bedank,” sê Marise.
Loer gerus na die foto’s hier.




