Roomysman Nico kom hierna toe
Nico Claassens staan weekliks gereed om dié lus met smaaklike roomys en ander koue drankies te blus.
POLOKWANE – Alhoewel dit tans nog lente is, was daar reeds ‘n paar warm dae as voorsmakie vir die heerlike somersdae wat op pad is.
Roomys is beslis ‘n wenner wanneer die kwik hoog in die termometer opstoot en Nico Claassens staan weekliks gereed om dié lus met smaaklike roomys en ander koue drankies te blus.
Diegene wat inkopies by Platinum Park doen het heel moontlik al die Funky Ice Cream-waentjie daar sien staan.

“Ek het jare gelede in Namibië begin om roomys by verskeie skoue en feeste te verkoop. Nadat ons wêreld as gevolg van Covid-19 deurmekaar gekrap is, het dit broekskeur gegaan. Ek het by verskillende inkopiesentrums gevra of ek roomys op hulle perseel kan verkoop en ten einde laaste het Platinum Park se bestuur ingestem. Ek is baie dankbaar daarvoor,” sê Nico
Nico het vir ‘n tyd lank op die hoek van Diemeer- en Veldspaatstraat gestaan, maar besef dit is te duur om die heeltyd die kragopwekker vir die yskaste en roomysmaker te gebruik. Tans maak hy van ‘n kragpunt by die winkelsentrum gebruik.
Sy roomys is van Woensdag tot Saterdag by Platinum Park en Dinsdae tydens Andre Kock & Son se veiling beskikbaar. Hy vertel dat die weer ‘n groot invloed op verkope het, aangesien mense minder roomys op koue dae koop.
Behalwe vir die roomys het Nico ook melkskommels, Slush Puppy en spesiale nageregte beskikbaar. Die masjien wat hy gebruik het om twee verskillende geure roomys te bedien, het gebreek en daarom het hy tans slegs vanieljegegeurde roomys.
Roomys is nie die enigste ding wat Nico besig hou nie. Hy maak ook slagblokke en braaiwaentjies van hout en verkoop Namibiese velskoene.




