Rol jou moue op en red ‘n lewe
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) het jou hulp nodig om hulle voorraad aan te vul en só 'n verskil in iemand se lewe te maak.
POLOKWANE – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) het jou hulp nodig om lewens te red.
Die bloedbank se voorraad is op kritiese lae vlakke en het ‘n groot behoefte aan bloedskenkings.
Die bank moet voorraad in elke bloedgroep vir vyf dae hanhaaf om te verseker dat bloed op enige gegewe oomblik beskikbaar is vir pasiënte, maar daar is ‘n tekort aan voorraad vir die AB- en O+ bloedgroepe.
Daar is genoegsame voorraad vir A+ en AB+, maar die B+ en O+ se voorraad se vlakke sit tans op 3.3 en 2.3 dae onderskeidelik. Die SANBD moet 3 000 eenhede bloed op ‘n daaglikse basis ontvang om voldoende voorraad aan die gesondheidsorgsisteem te verskaf.
Een bloedeenheid hou slegs vir 42 dae nadat dit geskenk is, dus is dit belangrik vir skenkers om gereeld hulle moue op te rol.
“Skenkers kan bloed elke agt weke skenk en elke eenheid kan tot drie lewens red wanneer die bloed in rooibloedselle, plasma en bloedplaatjies geskei word,” verduidelik skenkerverhoudingspraktisyn Ipeleng Thetela.
Die voorvereistes om bloed te skenk sluit in om tussen die ouderdom van 16-75 te wees, om meer as 50kg te weeg, en om in goeie gesondheid op te daag. Dit is belangrik dat die skenkers ‘n gesonde leefstyl handhaaf en dit word aanbeveel dat jy iets eet voordat jy gaan bloed skenk.
Die Polokwane skenkingsentrum is geleë te Potgieterrylaan 153 en kan by 015 283 3600 geskakel word.




