Skep jou eie kultuur: ‘Mens kry klomp verskillende soorte rys’
Só meen Ya Mei Buys wat saam met haar man, Philip, gesels oor liefde wat kultuurverskille oorskry.
POLOKWANE – Vir baie mense is kultuur een van die belangrikste aspekte waarmee hulle hulself identifiseer.
Vir paartjies van verskillende kulturele agtergronde is daar dikwels meer uitdagings en Philip Buys, wie met Ya Mei, ‘n Taiwannese vrou getroud is, kan getuig. Review het met hulle gesels hieroor.
‘n Belangrike tyd op die Chinese kalender is die Chinese Nuwe Jaar, en dis dan wanneer Philip daarvan hou om na die vuurwerke te kyk en Chinese bier te drink. Meeste Suid-Afrikaners is bekend daarvoor om lekker te kan eet en Ya Mei het geleer om ‘n bo-baas potjiekosmaker te wees.
“Ek is ook nou ‘n Christen en ons maak ons kind, Luke, grotendeels in die Afrikaanse kultuur groot. Hy leer by my ma om Mandaryns te praat. Hy sê dit is die beste van twee wêrelde en geniet dit om op so ‘n jong ouderdom al ‘n paar tale te kan praat. Hy weet hy is anders as meeste van sy maatjies, maar dit pla hom glad nie,” vertel Ya Mei.
Luke weet hy is half Afrikaans en half Taiwannees en is trots daarop. Hy het al vir Philip gesê dit is jammer dat Philip nie ook half Taiwannees is nie.
Philip vertel hy en Ya Mei het beide sterk persoonlikhede en is ook teenoorgesteldes in amper alles. “Dit tel ook seker in ons guns, want as ons saam werk, dan is ons ‘n baie goeie span. Ons is definitief ook baie goeie vriende en dit help wanneer ons deur ‘n moeilike tyd in ons verhouding gaan.”
Ya Mei glo hulle liefde vir mekaar help hulle om alle uitdagings te oorkom.
“Ya Mei moes ‘n groot deel van haar kultuur opgee toe hulle Suid-Afrika toe getrek het. Sy verstaan die Afrikaanse kultuur baie goed en dit was nog nooit ‘n uitdaging vir ons nie. My raad aan ander paartjies met gemengde kulture is om te onthou verhoudings en veral huwelike is al klaar baie keer moeilik om te onderhou. Om kultuur verskille ook by te voeg gaan definitief dit nog moeiliker maak. Maak seker dat julle ‘n baie goeie konneksie het voor julle die verhouding verder vat. Verstaan dat familie ‘n groot invloed op die verhouding kan hê en dus moet altwee seker maak dat die familie verstaan dat die verhouding belangrik is vir julle altwee. As jy beplan om ‘n Taiwanese meisie of kêrel te kry, maak seker jy hou van rys.”
Ya Mei lag en voeg by: “Skep jou eie kultuur. Mens kry klomp verskillende soorte rys.”




