Limpopo gerat vir die feesseisoen
Volgens die LUR word meer verkeer op paaie verwag asook ‘n skerp styging in misdaad.
POLOKWANE – Die inperking verlede jaar, asook regulasies wat in plek was om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, is van die redes waarom die misdaadkoers verlede jaar hierdie tyd afgeneem het.
Só meen die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, wat by die vrystelling van die Veiliger Feesseisoen Operasie gesels het.
“Ons weet nie wat na die verkiesing gaan gebeur nie, maar daar is ‘n gevoel dat nog ‘n vlaag van Covid-19 infeksies ons kan tref en dat dit strenger regulasies tot gevolg sal hê. Die mees algemene misdade wat gedurende die feestyd aangemeld is wissel van transitorooftogte, OTM-bomaanvalle, gewapende rooftogte, motorkapings en diefstal. Misdadigers gebruik die feesseisoen as hulle jagtydperk en in die proses word onskuldige burgers geterroriseer en doodgemaak.”
Sy sê dit is belangrik dat rolspelers in die veiligheidskring inwoners veilig hou hierdie tyd van die jaar wanneer inwoners ‘n ruskans van hulle besige skedules en werk neem.
“Ongelukkig word mense se vrede deur misdadigers gereeld ontwrig in hierdie tyd. Die departement het dus die rolspelers toegerus met die nodige voertuie en weerkaatsbaadjies sodat hulle hul verantwoordelikhede makliker kan uitvoer.”
Lerule-Ramahanya en die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembi Hadebe, het reeds in Julie hoëverrigtingvoertuie, vir die doel om hoofweëpatrollies uit te voer, aan rolspelers oorhandig.
Die voertuie was oorhandig nadat klagtes aangemeld was dat daar ‘n tekort aan voertuie was om inwoners spoedig genoeg te help wanneer hulle in nood verkeer.
“In die verlede het slagoffers gesê hulle was die onderwerp van sekondêre viktimisering deur ons beamptes wanneer hulle ‘n saak aanmeld. Ons het hard gewerk om te verseker dat slagoffers se privaatheid in ag geneem sal word wanneer hulle sake aanmeld. Stasiebevelvoerders moet dit hulle verantwoordelikheid maak dat geen persoon in die verleentheid gestel of weggewys word nie. Hulle word aangestel om mense te dien en te beskerm en dit is presies dit wat ek van hulle verwag. Daar is ‘n groot risiko van boendoegeweld indien ons daarin misluk om boewe te vang.”
Sy is ook bekommerd oor die ontvoering en verkragting van kinders en het ouers genoodsaak om te weet waar hulle kinders hulle hierdie feesseisoen bevind.
Hoë volumes verkeer op alle hoofpaaie word in die tydperk verwag, het sy bygevoeg.
“Beamptes gaan toesien dat voertuie padwaardig is en die nodige papierwerk in plek is. Ons het gesamentlike operasies nodig om misdaad oor die grense, asook die vervoer van onwettige goedere, te bekamp. Ons het eenhede nodig wat werk en hulle man kan staan om misdadigers hok te slaan. Ons gemeenskapstrukture soos die GPF en GVF moet ook waaksaam bly en aanhou om saam met die polisie te werk,” het sy afgesluit.




