Bak-en-broupret laat ekstra rande inrol
'n Motorhuis by Our Home/Ons Tuiste is omskep in 'n bakkery om 'n ekstra inkomste vir dié huis te genereer.
POLOKWANE – Tafelronde Pietersburg 100 se Rotary Anns moes tot onlangs nog ‘n blink idee ter syde stel weens die Covid-19-pandemie.
Die Anns het R25 000 ingesamel om ‘n motorhuis by Our Home/Ons Tuiste in ‘n bakkery te omskep, maar toe word inperkingsregulasies ingestel en dit het hulle planne in die wiele gery.
Hierdie projek kon uiteindelik Donderdag realiseer toe ‘n volledige toegeruste kombuis aan die seniors oorhandig was.
Die geld was gebruik om ‘n stoof en ‘n oond te koop, en toe die inperkingsregulasies verslap was kon Rotary Anns Carin Meintjes en Marlene Wilson en hulle span donasies begin soek om te help met die projek.
Al die nodige toerusting kon danksy die donateurs aangekoop word terwyl die motorhuis opgeknap was. ‘n Industriële wasbak met twee wasbakke, vlekvrye staal werkstafels, ‘n industriële menger, ‘n mikrogolfoond, ‘n dubbeldeur Staycold yskas, ‘n gasgeiser en vyfplaatgasstoof is slegs ‘n paar van die items wat aangekoop is.
Daar was selfs ‘n paar rand wat oorgebly het wat gebruik kon word om kleiner toerusting en eetgerei aan te koop. Nuwe tafels en stoele is ook aangeskaf en die area voor die bakkery het ‘n nuwe laag verf gekry om ‘n reuse verskil te maak.
Die programdirekteur, Eileen Schofield het die skenkers, die Mollie Hawken Trust, Woodstuff, JBM Metals & Castings en Plastic Corner, asook die anonieme skenkers, bedank vir hulle bydrae.
Sy het verduidelik die Anns het hamburger Vrydae gehou om geld in te samel om ‘n negesnytoebroodjiedrukker te koop.
“Ons beoog om nog geld in te samel om die sitarea buite die bakkery op te gradeer,” het Schofield gesê.
Meintjies verduidelik dat al die geld wat die bakkery genereer, gebruik gaan word om die daaglikse uitgawes van Our Home/Ons Tuiste te dek. “Die bakkery bied ook vir ons seniors die geleentheid om hulleself te geniet en saam met mekaar te werk,” voeg sy by.





