Mediese toetse vir AJ (4): kan jy ‘n bydrae maak?
AJ Deetlefs (4) sukkel reeds sedert kort na sy geboorte met onverklaarbare koors en longprobleme, en die oorsaak hiervan blyk steeds onduidelik.
POLOKWANE – Op die oog af lyk AJ Deetlefs (4) na ‘n gesonde, aktiewe kind wat nie toelaat dat die lewe hom onderkry nie.
Tog, wanneer jy met sy ouers, Joleen en Johan gesels, kom jy vinnig agter die uitdagings in hierdie huis is ietwat anders as by ander.
AJ sukkel reeds sedert kort na sy geboorte met onverklaarbare koors en longprobleme, en die oorsaak hiervan blyk steeds onduidelik.
“AJ is na ‘n gesonde swangerskap op 39 weke gebore. Daardie jaar teen Kerstyd was hy agt maande oud en het hy ‘n koors van 40°C ontwikkel en ons het hom dokter toe geneem. Hy was met blaasinfeksie gediagnoseer en huis toe gestuur,” vertel Joleen.
“Die medikasie het nie gehelp nie en AJ was in die hospitaal opgeneem waar hulle verskeie toetse gedoen het.”
Joleen sê AJ se koors het vir die eerste keer daardie Nuwejaarsdag gebreek en hy is later ontslaan met medikasie vir ‘n virale infeksie.
“Die dokters kon nie die probleem kry nie, en hy was daarna weer gereeld in die hospitaal opgeneem.”
Kort voor Joleen in 2019 afgedank was, was AJ met asma gediagnoseer en sy ouers was verlig dat hy uiteindelik die regte behandeling kon kry.
“Verlede jaar was ‘n goeie jaar. Al was ek sonder werk was AJ nie so gereeld siek nie. Ons moes na ‘n goedkoper woonplek trek en ook ons motor verkoop en ‘n goedkoper een aanskaf. In Maart het sy probleme weer begin. Ons kon met tye hoor hy kry nie asem nie.”
Nadat AJ onlangs by sy kleuterskool se kenmekaardag siek geword het, is hulle weer dokter toe.
“Hy is met baie sorg behandel. Die dokter het vir ons ‘n voorskrif vir sewe soorte medikasie van omtrent R900 gegee, en ons na ‘n spesialis verwys.”
Dit was egter hiér waar hulle wreed ontnugter is. Alhoewel hulle aan ‘n mediese fonds behoort, dek die fonds nie die spesialis se koste of die CT-skandering nie en ook nie vir sy opname nie.
“Daar is bevind dat AJ se suurstofvlakke 89% is en sy koors 39.2°C. Hy het dringende mediese hulp nodig. Volgens die mediese fonds is dit ‘n mediese toestand en nie ‘n noodgeval nie, en dus betaal die fonds nie vir onmiddellike opname nie. Ons moes R5 000 uit ons sak betaal net sodat AJ die nodige behandeling vir longontsteking kon kry. Hy moet nog baie toetse ondergaan, maar ons kan dit nie bekostig nie.”
Volgens kwotasies gaan die behandeling en toetse ongeveer R100 000 beloop.
Indien AJ opgeneem kan word, kan al die toetse gelyk gedoen word, andersins sal die gesin die toetse laat doen soos hulle dit kan bekostig.
“AJ is ‘n aktiewe kind wat daarvan hou om buite te speel. Ons wil nie hê hierdie mediese situasie moet hom keer om normaal te lewe nie. Ons is dankbaar vir ons vriende en familie wat ons ondersteun en dra in die moeilike tye.”
Hulle het ‘n Backabuddy-rekening geskep waar mense geld kan inbetaal. Besoek gerus dié bladsy indien jy ‘n bydrae wil maak.




