Kunsmis- en brandstofprys raak verbruikers se sakke
Die reuse stygings in die prys van voedsel het veel te make met die hoë pryse van brandstof en kunsmis, meen TLU SA hoofbestuurder Bennie van Zyl.
LIMPOPO – Volgens Van Zyl het die stewige styging in die prys van petrol (met R1.21) en diesel (met R1.48) en die rekordhoogtes van kunsmispryse die verbruiker én die boer op die agtervoet geplaas. Die toename in insetkoste vir mielieboere word deeglik uiteengesit in ‘n onlangse verslag van Graan SA.

“Dit is veral die prys van kunsmis wat ‘n groot invloed speel aangesien kunsmis sowat 30% tot 35% van ‘n mielieprodusent se veranderlike produksiekoste uitmaak. Plaaslike kunsmispryse is tans op rekordvlakke vir stikstof, fosfaat en kalium, en het veral die afgelope paar maande skerp toegeneem. Die prys van sade het ook toegeneem. Volgens Graan SA se berekeninge het mieliesaadpryse vir van die gewildste kultivars met gemiddeld 5.6% sedert verlede jaar gestyg, terwyl die gemiddeld van al die mieliekultivars ongeveer 3.3% gestyg het. Sonneblomsaadpryse het op ‘n gemiddelde basis met 3.7% gestyg, terwyl sojaboonsaadpryse met 2.6% toegeneem het,” sê Van Zyl en voeg by dat berekeninge deur Graan SA daarop dui dat die totale veranderlike koste van mielies ‘n gemiddelde styging van tussen ongeveer 20% en 28% jaar op jaar sal hê. Beraamde produksiekoste vir die 2021/22-produksieseisoen vir mielieboere in die Oos-Vrystaat is R13 998 per hektaar en R13 109 in die Noordwes.
“Inligting deur Aartappel Suid-Afrika verskaf, wys dat vier van die agt streke wat aartappels voorsien teen ‘n verlies werk. Produksiekoste vir aartappelboere per hektaar vir die 2020/21-seisoen wissel tussen R112 000 en R333 000. Na al die insetkoste in berekening gebring is, kry boere tans ‘n gemiddelde R2.24 wins vir ‘n 10kg-sak aartappels.
“As daar na vooruitskattings gekyk word, is aartappelboere van mening dat hulle insetkoste met gemiddeld 30% sal styg wat vanselfsprekend ‘n invloed sal hê op die winsgewendheid van die produk sowel as die prys op die mark. Indien die regering nie daadwerklik ingryp en die Eskom-uitdaging aanspreek nie, is dit ‘n verdere invloed wat produksie gaan kniehalter. Waar daar nie voldoende kragvoorsiening is om lande te besproei nie, is die gevolg permanente skade op die opbrengs en bring hierdie faktor verdere verlies mee.
“Die invoer van chemikalieë is ‘n verdere probleem. Daar is ‘n tekort aan bemestingprodukte wat produksie verder negatief beïnvloed. Dan moet die regering ook besin oor die vasstelling van minimumlone. Arbeidskoste veral in landbou word onbekostigbaar as daar na die winsgrens en insetkoste gekyk word,” verduidelik Van Zyl.
“Dit wil voorkom asof elke departement semi-staatsinstellings op hulle eie voortstu om moontlik vasgestelde teikens te haal en geensins die impak op die groter prentjie besef nie. Die Departement van Landbou moet dalk vereis dat geen ander departement ‘n verhoging van enige aard, wat invloed op landbou het, mag indien alvorens landbou nie eers die bekostigbaarheid geëvalueer het nie.”




