Talle reeds vas tydens feesseisoenklopjagte in Limpopo
Dwelmhandelaars in Bendor, Polokwane is onder die 1 503 verdagtes wat die afgelope week in die provinsie gearresteer was.
LIMPOPO – Klopjagte wat deel vorm van provinsiale Veiliger Feesseisoen-bedrywighede, is besig om vrugte af te werp.
Tussen 14 en 21 November is 1 503 arrestasies gemaak vir onder meer moord, poging tot moord, roof, verkragting, inbrake en die oortreding van die Immigrasiewet.

Luidens ‘n verklaring deur polisiewoordvoerder Brigadier Motlafela Mojapelo, het verskeie eenhede van die polisie aan hierdie klopjagte deelgeneem. Mojapelo sê 18 vuurwapens, 9 074 vervalste sigarette, 44 gevaarlike wapens, vyf gesteelde voertuie en 36 messe is tydens die klopjagte gekonfiskeer. ‘n Verdere 1 653 boetes was uitgereik vir die oortreding van die Padverkeerswet.
Hy deel van die suksesse:

Dwelmhandelaars
Twee mans, wat onderskeidelik 35 en 40 jaar oud is, was in hegtenis geneem toe hulle dwelms ter waarde van R65 000 in Bendor afgelewer het. “Die mans is in besit gewees van 1 350 sakkies en 350g nyaope.”
In ‘n afsonderlike geval is ‘n 27-jarige man op 19 November in hegtenis geneem nadat hy in besit van vyf sakkies heroïen en dagga gevind is. Die voorval het in Matlekereng buite Groblersdal gebeur.

Huisroof
Vyf verdagtes tussen die ouderdom van 24 en 26 jaar is op 16 November gearresteer in verband met ‘n huisroof in Settlers op 8 November. “‘n Intelligensie-gedrewe klopjag deur polisielede van Bela-Bela, Tuinplaas en die snelwegpatrollie is van stapel gestuur en die mans is naby die misdaadtoneel in hegtenis geneem. Polisie het beslag gelê op twee vuurwapens en ammunisie, messe, ‘n byl, handskoene, klapmusse en selfone,” verduidelik Mojapelo.
Die verdagtes sal op 26 November in die Bela-Bela Landdroshof verskyn vir ‘n borgtog.

Ongelisensieerde vuurwapens
‘n 45-jarige man is by Bakenburg in die Mokopane-polisiëringsgebied in hegtenis geneem nadat hy in besit gevind was van ‘n ongelisensieerde 9mm-pistool en 16 rondtes ammunisie. “Tydens ‘n ander voorval is ‘n 23-jarige man, wat in besit was van ‘n ongelisensieerde 9mm-pistool en 23 rondtes ammunisie, op 21 November in Mankweng gearresteer,” voeg Mojapelo by.

Mees gesoekte verdagtes
Mojapelo sê vier van die ‘mees gesoekte verdagtes’, wat betrokke was by ‘n reeks rooftogte in die Vhembe-distrik, is op 22 November in hegtenis geneem. “Die mans, tussen die ouderdom van 24 en 45 jaar oud, is in verskeie areas tussen Maniini- en Tswinga-dorpies in hegtenis geneem. ‘n Motorvoertuig en R27 000 is gekonfiskeer en die mans is reeds verbind tot agt sake van besigheidsroof. Profiele van die verdagtes word steeds saamgestel en hulle mag nog met meer soortgelyke sake verbind word.”
Mojapelo voeg by: “Die verdagtes wat tydens hierdie klopjagte in hegtenis geneem is, het reeds in verskeie landdroshowe regoor die provinsie begin verskyn. Die polisie se ondersoeke duur steeds voort.”
Provinsiale polisiekommissaris Luitenant-generaal Thembi Hadebe het die lede bedank vir hulle toewyding en het hulle aangemoedig om op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te wees.




