Bertie Nel: ‘Ek pas eerder karre op as wat ek staan en bedel’
Na amper 22 jaar as karwag deel Bertie die uitdagings wat oor sy pad kom met Review.
14POLOKWANE – Met sy heldergeel glimbaadjie help Bertie Nel sy kliënte om veilig by Savannah Mall te parkeer.
Sy vriendelike glimlag word agter sy masker verberg, maar dit keer hom nie om almal te groet nie. Na amper 22 jaar as karwag deel Bertie die uitdagings wat oor sy pad kom met Review.
Bertie het eens ‘n vaste werk en inkomste gehad, maar was twee keer afgelê. Dit het hom sonder ‘n inkomste en haweloos gelaat. Hy moes bedel om vir oornagakkommodasie en iets te ete te betaal. Die geleentheid om as karwag te werk het in Durban oor sy pad gekom.
“Ek was bang oor wat mense van my sou dink. Vreemdes het my nie bekommer nie, maar wat as iemand my sou ken. Dit het gevoel of ek afgradeer vanaf ‘hobo’ na ‘lowbo’.”
Bertie onthou sy eerste dag was ‘n fiasko. “Almal het die middag gelyktydig uitgekom en begin ry. Ek het die heeltyd rondgehardloop. Ek was huis toe met R67 en het soos ‘n miljoenêr gevoel. My daaglikse begroting was R17. Die oornagskuiling was R10 en R7 vir kos.”
Hy is van 2003 af terug in Polokwane, en sy grootste uitdaging in daardie tyd was om sy teiken van R300 per dag te maak.
“Met dié geld het ek betaal vir die area waarin ek werk, vervoer, my eenslaapkamer woonstel, krag en kos. Op baie warm dae spandeer ek tot R80 aan water.”
Daar is tog positiewe aspekte van sy werk, soos kliënte wat hom goed betaal en selfs met koeldrank en kos bederf. Bertie verduidelik dat nie sommer enige persoon ‘n karwag kan word nie, aangesien hulle ten minste ‘n D-graad in sekuriteit moet bekom. Dit kos ongeveer R600 asook ‘n verdere R400 vir registrasie by Psira. Jaarliks moet jy jou registrasie hernu teen R170 en indien jy ‘n misdaadrekord het, sal jou aansoek afgekeur word. Karwagte verdien tussen R3 000 en R6 000 per maand.
“Ek was al ‘n paar keer gevra wanneer kry ek ‘n ‘regte’ werk. Om karwag te wees is ‘n regte werk. Dit bly die motoris se plig om die karwag te vra om na sy voertuig te kyk. Die karwag se doel is om jou voertuig te beskerm teen diefstal. Dit is die motoris se verantwoordelikheid om seker te maak sy kar is gesluit en die vensters is toe. Karre wat nie gesluit is nie of met oop vensters word gerapporteer, so ook troeteldiere en kinders wat in ‘n kar gelaat word. Om jou inkopie-waentjie te stoot en uit te pak is ‘n guns wat ons bewys. Ek pas eerder karre op as wat ek by ‘n verkeerslig staan en bedel of steel.”




